Oudtshoorn se Sonja Schultz maak SA trots op internasionale fietsrenbaan

Foto verskaf

Oudtshoorn se eie Sonja Schultz het geskiedenis gemaak nadat sy aangewys is as spanbestuurder van Span Suid-Afrika vir die gesogte CAC Africa Track Championships wat tans in Nigerië plaasvind.

Schultz, wat diep spore in die fietsrywêreld trap, dien tans as sekretaris van Wes-Kaap Fietsry en Eden Fietsry, asook hoof van die Vrouekommissie van Fietsry Suid-Afrika.

Haar aanstelling word as ’n groot prestasie beskou, nie net vir haar persoonlik nie, maar ook vir die Klein Karoo-gemeenskap wat trots agter haar staan. Raadsheer Johan Allers het sy hartlike gelukwense aan Schultz oorgedra en haar geloof vir haar toewyding en passie vir die sport.

Volgens Allers is Schultz ’n ware ambassadeur vir Oudtshoorn wat die dorp se naam met trots op internasionale vlak uitdra.

“Sonja plaas Oudtshoorn verder op die wêreldkaart deur haar harde werk, deursettingsvermoë en liefde vir fietsren. Ons is ongelooflik trots daarop dat iemand uit ons gemeenskap Suid-Afrika op só ’n groot verhoog verteenwoordig,” het Allers gesê.

Hy het verder beklemtoon dat Schultz se aanstelling as nasionale spanbestuurder ’n bewys is van haar uitstekende leierskap en jarelange diens aan die sportbedryf.

Allers het ook spesiale erkenning gegee aan Corné Bence, president van Wes-Kaap en Eden Fietsry, vir sy ondersteuning en leiding oor die jare.

“Agter elke suksesvolle sportpersoon staan daar mense wat hulle ondersteun en motiveer. Corné se geloof in Sonja se vermoëns het beslis bygedra tot haar groei en sukses op nasionale en internasionale vlak,” het hy gesê.

Die CAC Africa Track Championships duur tot 17 Mei en bring van die beste baanfietsryers op die Afrika-kontinent bymekaar. Schultz se betrokkenheid by die kampioenskap word reeds as ’n groot mylpaal vir Oudtshoorn en Suid-Afrikaanse fietsry beskou.