Nog ’n vlug vanaf Drie Susters

DIE Oudtshoorn Posduifklub (OPK) het Saterdag (12 Junie) weer hul duiwe op Drie Susters in die Noord-Kaap losgelaat, nes die vorige wedvlug.

Padlangs is die afstand tussen Drie Susters en Oudtshoorn sowat 265 km, maar hierdie duiwe ken ’n kortpad wat elke bestuurder wat die pad aandurf sou wil neem, en meeste is tuis geklok na ’n afstand van tussen 201 en 209 km.
Volgens Christo Senekal van die OPK het “die manne se duiwe mooi teruggekom”.

In die OPK se Jaaroudafdeling het die span van Abie Galant en Okkie Olivier (Ockie@Abe) se duiwe voor gevlieg, met 5 Junie se wenners, die Raubenheimer Broers se duiwe kort op hul vere.

In die Ope-afdeling het ’n enkele duif wat aan Johan de Jager behoort die Raubenheimer Broers se duiwe uitgestof om eerste tuis te klok.

Volle Jaaroudafdeling-uitslae: Ockie@Abe – 1, 8 en 16; Raubenheimer Broers – 2, 4 en 7; Klein Karoo Lofts (KKL) – 3, 9, 13 en 17; Jurie Geldenhuys – 5, 10 en 19; De Jager – 6, 12, 14, 15 en 18; Hannes Smit – 11.

Volle Ope-afdeling-uitslae: De Jager – 1, 13, 16, 18, 19, 20, 21 en 24; Raubenheimer Broers – 2, 3, 7, 8, 12, 25, 27 en 29; Ockie@Abe – 4, 22 en 30; Smit – 5 en 23; Geldenhuys – 6, 9 en 11; KKL – 10, 14, 15, 17, 26 en 28. (Deur Stefan Skapie Goosen)