Nog ’n tennistitel vir Liebe Oosthuizen

Liebe Oosthuizen. Foto: Garnett Wicomb

DIE 17-jarige Liebe Oosthuizen, ’n leerder aan Langenhoven Gimnasium, het nog ’n enkelspel-tennistitel agter haar naam geskryf toe sy die Eden Mini Masters tennistoernooi op George gewen het met ’n oorwinning van 6-4, 6-0 oor Anika Kleinhans in die eindstryd.

Die toernooi het op 3 en 4 Desember plaasgevind. Oosthuizen het in Oktober vanjaar ook die ETA Coca-Cola Prokennex Grand Prix in Durban gewen waar sy vir Nina Schimper in die eindstryd verslaan het. Liebe is volgens haar afrigter, Pieter van der Walt, tans 18de op die Suid-Afrikaanse ranglys vir meisies onder 18 jaar, en beoog om in 2023 in die VSA te gaan studeer en ook haar tennis na ’n volgende vlak te neem. Haar gunsteling tennisspeler is die Amerikaner Serena Williams. (Deur Garnett Wicomb)