
DIE span van die Polisiehoogte Nasorgsentrum het Sondag die tweede o.13 vlakkiekriekettoernooi van die sentrum op die oop stuk grond in Sewentiende Laan gewen met ’n een paaltjie-oorwinning oor die Oukas Sunrizers en daarmee met die Carlos Biljohn-wisseltrofee weggestap.
Die span van Oukas Sunrizers het eerste gekolf en 73 lopies aangeteken. Die span van die Nasorgsentrum het met 74/9 geantwoord om die spannende wedstryd met ’n enkele paaltjie te wen. Sunrizers het die Reggie Dyssel-wisseltrofee verower.
Die beste kolwer, Juniad Claassen van die Nasorgsentrum, en die beste bouler, Tersius Wicomb van die Oukas Sunrizers het krieketkolwe gewen wat onderskeidelik deur adv Michelle Weyers en Matika van die departement kultuursake en sport geskenk is.
Die span van die Lane het die Laeveld in die uitspeel wedstryd om die derde plek geklop om die Philip Seroux-wisseltrofee te wen.
Seroux het met die prysuitdeling sy dank uitgespreek teenoor Gary Moos en sy span van SWD Krieketontwikkeling wat die hoofwedstryd bygewoon en ook ’n bydrae tot die sukses van die toernooi gelewer het.
Voorts het hy Hazel Jonker van Opsa vir haar borgskap bedank asook die Oudtshoorn Gemeenskaps Polisieringsforum (GPF) wat gesorg het dat die spelers iets te ete gekry het.
Hy het egter sy teleurstelling uitgespreek jeens die feit dat nog die Oudtshoorn Munispaliteit nog die wyksraadslid ’n bydrae tot die toernooi gelewer het en afwesig was.
“Ons moet sport gebruik in ons verskillende wyke en daardeur die misdaadsyfer se nek breek,” het Seroux gesê. “Die tronke is vol en ’n kind op die sportveld is ’n kind buite die tronk.”
Seroux het ’n beroep op besighede in die dorp gedoen om die projek te ondersteun en hom te kontak by 079 987 9486. (Deur Garnett Wicomb)