’n Trotse geskiedenis

Dié foto’s is met die opening van die gholfbaan op 31 Mei 1957 geneem. Agter die drie klublede links kan gesien word hoe min bome daar destyds was. Die klubhuis is vandag waar die mense bo op die gras sit.

Dié foto’s is met die opening van die gholfbaan op 31 Mei 1957 geneem (foto bo en onder). Agter die drie klublede links kan gesien word hoe min bome daar destyds was. Die klubhuis is vandag waar die mense bo op die gras sit.

6 Gholfbaan 2

Deur Schalk le Roux en Liesel le Roux
SEDERT die Oudtshoorn Gholfklub se baan 60 jaar gelede op 31 Mei 1957 in gebruik geneem is, was daar baie hoog-tepunte in die klub se geskiedenis en is daar oor die jare al baie vriendskappe en sakebande gesmee.

Die klub, wat al ouer as ’n eeu is, se vorige baan was teen die rantjie wes van die Oudtshoorn Hospitaal.
Gideon Badenhorst, wat vanjaar die sesde jaar klub-kap-tein van die klub is, sê destyds, voor die dae van Fan Court-gholflandgoed en soortgelyke luukse gholfontwikkelings aan die Tuinroete, is Oudtshoorn se gholfbaan as die mooiste in die Suid-Kaap beskou.

Die baan is vandag nog die enigste 18 putjiegholfbaan in die Karoo. Badenhorst sê ondanks al die gholfestates in die Tuinroete gaan dit goed met die Oudtshoorn Gholfklub. “Ons lede word soms weggelok, maar gelukkig kom baie van hulle darem weer terug.”

Hy het die sukses van die gholfklub toegeskryf aan loja-le lede, goeie borge en die uiters betroubare en bekwame kantoor-, baan- en ander personeel van die klub. Hy het ook die Oudtshoorn munisipaliteit en die Oudtshoorn Besigheidskamer en sakegemeenskap bedank vir hul steun, bydraes en positiewe gesindheid.

Badenhorst beklemtoon dit is belangrik vir Oudtshoorn om ’n florerende gholfklub en goeie baan te hê. “Dit is ook belangrik vir toerisme deurdat baie besoekers van ander dele van die land en die buiteland hier kom speel.”

Hy het inwoners genooi om by die klub aan te sluit. “Nie-lede van die klub kan een Sondag per maand teen halfprys op ons baan kom speel.”
• Winston Coerecius, president van die gholfklub, sê sy verbintenis met gholf op Oudts-hoorn het in sy kinderdae begin toe hy baljoggie was vir sy pa, Antoon, op ’n gholfbaan vir bruin spelers in Colridge View.

Die eerste keer wat hy op die Oudtshoorn Gholfbaan gespeel het, was as tiener in 1970 toe hy en sy pa en ’n paar ander op ’n Sondagmiddag “skelm” aan die agterkant van die baan by die 16de, 14de en 13de putjies gespeel het.

Sondae was die baan gesluit vir die wit spelers en so ook Boxing Day wanneer bruin spelers een maal per jaar toegelaat is om ’n toernooi op die baan te speel.

Baie water het egter in die see geloop sedert daardie dae en vandag staan Coerecius trots as president by die bord waarop name van oud-voorsitters, -presidente en klubkampioene staan. Hier was oor die jare talle fenomenale leiers by die klub wat leiding gegee het. Ek wil hulde bring aan al die presidente, klubkapteins en -kampioene.

Die waarde van so ’n gholfbaan in ’n gemeenskap kan nie oorskat word nie, sê Coerecious. “Die gholfbaan bied ’n belangrike uitlaatklep vir sportmanne wat nie meer aktiewe sport beoefen nie en op ’n ander manier kan mee­-ding. Maar dit lewer ook ’n groot maatskaplike bydrae deur spesiale gholfdae waar liefdadigheidsorganisasies groot bedrae geld kan insamel, soos die jaarlikse Kanker-gholfdag en gholfdae van onder meer die Round Table, Rotariërs, die Vryburgers en kerke.

“’n Gewone geborgde gholfdag kan R20000 oplewer. Dit kan ’n mens met 30 maal. Dit is duidelik dat die gholfklub maklik R1miljoen per jaar terugploeg in die gemeenskap in die vorm van geborgde gholfdae.”

Coerecius sê hy is positief oor ’n voorgenome gholfont­wikkeling by die baan en hoop dit sal ’n groot finansiële inspuiting vir Oudtshoorn wees “en terselfdertyd ook die gholfgemeenskap na ’n nuwe vlak ophef.

“Ek as president is baie trots om te sê ons is byna daar. Nog net so ’n bietjie wag.”
• André van Greunen, wat al sedert 1979 ’n lid van die ­Oudtshoorn Gholfklub is, is tans die enigste lewende ere-president van die klub

Sedert hy by die klub ­aangesluit het, was hy 19 jaar lank òf klubkaptein òf president.
Van Greunen sê dit is vir hom ’n voorreg om so lank by die klub betrokke te wees. “Dit het deel van ons lewens geword en ek sal lojaal aan die klub bly en dit ondersteun totdat ek die dag omslaan.”
Hy voeg by dit is jammer dat die beoogde gholfontwikkeling ’n tyd gelede weens verskeie onnodige redes nooit op Oudtshoorn van die grond af gekom het nie. “Dit sou ’n groot inspuiting vir die dorp gewees het.”

• Vorige presidente en klubkapteins wat lank diens gedoen het, is Carl Kleinschmidt (9 x president) wat ook die eerste klubkampioen was, Quinton Mackenzie (6 x pres en 4 x klubkaptein), Les Russell (5 x pres en 4 klubkapt), André van Greuenen (12 x pres en 7 x klubkapt) en Godfrey Malgas (10 x pres).
Van Greunen was in 1992/93 ook president van die Suid-Kaap Gholfunie asook bestuurslid van die SA Gholf-assosiasie. Nog ’n oud-president, Niel Truter, was in 1989/90 ook president van die Suid-Kaap Gholfunie,

Onder die vername besoekers wat die Oudtshoorn Gholfklub al oor die jare besoek het, is twee voormalige eerste ministers, John Vorster en FW de Klerk, en top-gholfspelers soos Bobby Locke en Gary Player.

• Die A-span van die Oudtshoorn Gholfklub het in 1992 die A-gholfliga in die Suid-Kaap gewen. Die wenspan het bestaan uit VJ Schnetler, Naas Beets, André van Greunen en Abrie de Vries.

Gideon Badenhorst

Gideon Badenhorst

André van Greunen

André van Greunen

Winston Coerecius

Winston Coerecius