Unieke Vivaldi by Klassique

Petrus de Beer, Stanislav Angelov en Schalk Joubert van die World Café. Foto verskaf.

Petrus de Beer, Stanislav Angelov en Schalk Joubert van die World Café. Foto verskaf.

“ ’N UNIEKE vertolking van ’n bekende werk.”

Só word Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek, wat by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn uitgevoer word, beskryf. Dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn vind van Vrydag tot Son­dag, 11 tot 13 Augustus die negende keer plaas.

Vivaldi het sy Vier Seisoene in 1723 vir ’n strykorkes gekomponeer. Dié tydlose meesterstuk is saam met vier gedigte gepubliseer en daar word vermoed dat Vivaldi self die verse geskryf het. Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag), lede van die musiekgroep World Café, het dié Vivaldi-stuk op ’n unieke manier verwerk.

“Ons het die oorspronklike partituur opgedeel in solostukke vir viool, trekklavier en elektriese baskitaar. Stanislav voer die musiek van die orkes uit, terwyl Schalk die musiek van die tjello, kontrabas en altviool speel en ek die vioolmusiek,” sê De Beer. Volgens hom het hulle besluit om dit juis so te doen sodat dié stuk meer toeganklik vir ’n groter gehoor kan wees en hulle maklik met die uitvoering kan reis.

Die son­nette, spesiaal deur dr Dawid de Villiers uit Italiaans na Afrikaans ver­taal, word deur Joubert voorgedra.

De Beer en Angelov was verlede jaar as deel van die Cape Tango Ensemble by Klein Karoo Klassique te sien.

Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek vind op Saterdag 12 Augustus om 09:30 in die NG Moeder­kerk op Oudtshoorn plaas. Al vanjaar se uitvoerings vind hier plaas, waar daar ook ’n CD-winkel en proe-ervarings uit die kontrei aangebied word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home en kos R125 elk.