
Abe Kaplan. Foto: Higgo Jacobs
Abe Kaplan vertel van lekker gholftye…
Deur Higgo Jacobs
“DIT was soos een groot familie. Ons het baie Saterdae-aande ’n orkes gehad en dan is daar gedans tot die vroeë oggendure. Almal het saamgewerk en saamgestaan in belang van die Oudtshoorn Gholfklub.”
Só onthou Abe Kaplan (81), een van die langs-lewende lede van die Oudtshoorn Gholfklub, die tye by klub se huidige baan wat in 1957 in gebruik geneem is. Die ander langslewende lede van die klub is Hilly Lipschitz (89) en Ackroyd Theron (83).
By die klub se vieringe Saterdag (3 Junie) van die huidige baan se 60ste bestaansjaar gaan spesiale sertifikate aan dié drie oorhandig word.
Volgens Kaplan, alom bekend as Kappie, was water en nogmaals water en geld oor al die jare die grootste probleem wat die Oudtshoorn Gholfklub ondervind het. Die oorspronklike baan was agter die ou Oudtshoorn Hospitaal en het in 1957 na die Eendjiesdam-omgewing met sy ryke fauna en flora geskuif.
Kaplan onthou dat daar destyds grond vir die gholfklub aangebied is langs die Grobbelaarsrivier waar die Protea Hotel tans geleë is. Bestuurslede het egter meer gehou van Eendjiesdam met sy verskeidenheid plantegroei en veral dierelewe.
Hy vertel die gholfklub was oor die jare geseënd met sterk leierskap. Bekende sakeleiers uit die gemeenskap het die voortou geneem en presidente en komiteelede was nie bang om te werk en tyd op te offer in belang van die klub nie.
Basil Smuts, ’n oud-klublid en baanbestuurder, het byvoorbeeld met Sages begin en in 1987 is Nomads op Oudtshoorn gestig. Kaplan en Lipschitz was van die eerste komiteelede van Nomads.
“Mense vergeet maklik die belangrike rol van sportorganisasies soos Nomads en Sages.”
Kaplan is nie seker of die Oudtshoorn munisipaliteit altyd besef het watter groot rol sport, en veral gholf, in die Suid-Kaap en op Oudtshoorn speel om sportttoerisme te bevorder en die plaaslike ekonomie te stimuleer nie.
Oudtshoorn Gholfklub het 60 jaar gelede oor die langste baan in die Suid-Kaap beskik en menige Suid-Kaapse kampioenskappe is hier beslis.
Die munisipaliteit sal beslis meer finansiële ondersteuning aan die gholfklub moet bied om sport in die algemeen op Oudtshoorn te ondersteun en te bevorder,” sê Kaplan.
Die aanbou van die braai-area en stoepgedeelte van die klubhuis was volgens Kaplan een van die hoogtepunte wat hy beleef het. Ook die kombuis is uitgebrei en elektriese waaiers is in die eetsaal aangebring.
Hy vertel hyself en André van Greunen het ’n reuse-rol hierin gespeel deur geld in die gemeenskap te kollekteer vir al die verbeteringe.
Aanvanklik is die baan besproei met pype en sproeiers wat gedurig verskuif moes word. Sowat 15 jaar gelede het klublede toe bygedra tot ’n ondergrondse besproeiingstelsel wat nie alleen baie water bespaar het nie, maar ook tot beter skoonvelde en setperke gelei het. ’n Paar jaar gelede is die plafonne in die kroeg ook vervang en TV-skerms is geskenk sodat lede gesellig daar kan kuier sonder om groot sportgeleenthede te mis.
Kaplan sê alles in ag genome is dit vir hom jammer dat die familie-atmosfeer en hartlike samewerking baie afgeneem het. Daar kan volgens hom ’n groot aantal redes hiervoor wees, maar dit bly jammer dat die aangename gees van samesyn en vriendskap effens gekwyn het.