Deur Higgo Jacobs
DIE heerlike, tradisionele feesbasaar word soos gebruiklik vanjaar weer saam met die uiters gewilde Meiringspoort Wedlope oor 21,1km en 12,5km aangebied.
Die flukse vroue en manne van De Rust sal reeds môre-oggend (Vrydag 12 Oktober) vanaf 11:00 gereed wees met kenmerkende lekker eet- en drinkgoed van ’n plattelandse basaar.
Atlete kan ook môre van 11:00 tot 21:00 vir die wedlope registreer. Atlete moet onthou om ’n afskif van hul ID-dokument saam te bring wanneer hulle hul nommers kom afhaal.
Die laaste inskrywings kan Saterdagoggend vroeg tussen 4:30 en 5:30 afgehaal word.
Die organiseerders versoek dat atlete nie met private vervoer die Poort binnegaan nie, maar op die vragmotors klim wat spesiaal gereël is om hulle na die wegspringpunte te neem.
Die wedloop sal onder geen omstandighede laat begin as gevolg van atlete wat nie betyds is nie.
Lees gerus die jongste nuusbrief op die webtuiste www.meiringspoort21.co.za vir volledige inligting oor en reëls vir die registrasieproses. Atlete móét hul eie registrasie kom afhaal. Geen atleet sal toegelaat word om ’n ander persoon se registrasie te ontvang nie.
• Die organiseerders nooi alle deelnemers, toeskouers en ander belangstellendes om hul gesinne saam te bring vir ’n lekker kuier op De Rust by die Meiringspoortwedlope en die feesbasaar.
Pannekoek, jaffels, basaarpoeding, chips, braai-burgers, tjops, worsrolle, sosaties, brekkieburgers (Saterdagoggend) en die
Karoo Deli met heerlike koeke, melkskommels en goeie filterkoffie is weer alles deel van die basaar. Die deli gaan vanjaar ook sushi verkoop.
Die steakete word Vrydag reeds vanaf 17:00 bedien.
Die vroue van De Rust begin vanjaar ’n nuwe vegetariese en vegantafel vir atlete wat nie vleis en suiwel eet nie. Kom ondersteun dit gerus!
Die gewilde vleistafel met Karoovleis sal Vrydag vanaf 16:00 oop wees en weer Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartgeriewe, maar van die ander tafels word op ’n kontantbasis bedryf. Daar sal vanjaar weer ’n Absateller beskikbaar wees, maar bring sommer genoeg kontant van die huis af saam.
• Atlete word gewaarsku dat daar tans baie padwerke tussen Oudtshoorn en De Rust is met twee stop/ry-punte. Daar is ook ’n stop/ry-punt tussen Willowmore en De Rust. Deelnemers moet seker maak dat hulle minstens ’n uur meer by hul reistyd voeg om genoeg tyd te hê vir parkering soek en nog betyds vir die wedloop te wees.