Ses toegewyde afrigters wat vir meer as twee dekades ’n onskatbare bydrae tot mini-krieket in die Suidwes-Distrik gelewer het, is onlangs met spesiale merietetoekennings vereer tydens SWD Krieket se jaarlikse prysuitdeling.
Die glansgeleentheid is by die Anew Wilderness Hotel in George aangebied, waar spelers, afrigters, administrateurs en gaste bymekaargekom het om die seisoen se uitblinkers te vereer.
Die spesiale toekennings is toegeken aan afrigters wat oor baie jare heen honderde jong spelers aan die spel be-kendgestel en begelei het.
Die ontvangers van die merietetoekennings is Imelda Saunders en Deli Anne LeKay van Oudtshoorn, Betty Fipaza en Barbara Anne Cupido van Mosselbaai, Sally Herman van Dysseldorp en Eva Joseph van Riversdal.
Elkeen van hulle het meer as 20 jaar diens aan die mini-krieketprogram gelewer en ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van jong krieketspelers in hul onderskeie gemeenskappe.
Mini-krieket vorm die grondslag van krieketontwikkeling en bied jong kinders die geleentheid om die sport op ’n prettige en opvoedkundige manier te leer.
Die toewyding van hierdie afrigters het nie net gehelp om krieketvaardighede te ontwikkel nie, maar ook waardes soos dissipline, spanwerk, respek en sportmangees by duisende kinders te vestig.
Die toekennings dien as erkenning vir jare se onbaatsugtige diens, opoffering en passie vir die spel.
SWD Krieket het hul opregte waardering uitgespreek teenoor die ontvangers vir hul volgehoue ondersteuning van mini-krieket en die positiewe invloed wat hulle op jong spelers se lewens gehad het.
Hul nalatenskap en toewyding leef voort in die talle spelers wat deur die jare hul eerste tree op die krieketveld onder hierdie toegewyde mentors se leiding gegee het.
Mini-krieketlegendes vereer vir dekades se diens
Foto verskaf.