Meer as 1000 verwag by 39ste Kango Marathon-wedlope

'n Vorige Kango Marathon. Foto: Die Hoorn

‘n Vorige Kango Marathon. Foto: Die Hoorn

Deur Ben du Preez
MEER as ’n duisend langasems durf Saterdag (25 Februarie) weer die jaarlikse Kango Marathon tussen die Kango Grotte en die Oudtshoorn Infanterieskool aan.

Dit is die 39ste keer dat die marathon (42,2 km), wat deur die Oudtshoorn Infanterieskool aangebied word, plaasvind.

Altesame 1 102 atlete het vir die marathon (42,2km) ingeskryf wat om 06:00 by die Kango Grotte begin. ’n Halfmarathon (21,1km), wat gedraf of gestap kan word, begin ook 06:00 by die Ou Tol. Altesame 512 atlete en stappers word vir dié wedloop verwag.

Volgens Richard Hughes, organiseerder van die marathon, word die atlete Saterdag reeds vanaf 04:00 met busse na die onderskeie wegspringplekke vervoer.

Die eindpunt vir albei wedlope is by die Infanterieskool se sportgronde in Parkweg-Noord.
Registrasie is môre (Vrydag) van 15:00 tot 22:00 by die Infanterieskool se sportgronde of Saterdag van 04:45 tot 05:50 by die onderskeie weg-springplekke.

Die afsnytyd vir die marathon is vyf uur en die halfmarathon drie uur. Die stappers kry vier uur.
Die prysuitdeling is om 11:30 by die Infanterie-skool se sportgronde.

• Daar is ook vanaand ’n pretdraf oor 5 km. Dit begin by die sportgronde. Inskrywings is van 17:00 teen R15 per persoon. Die pretdraf begin om 18:00. Daar sal ná die tyd ’n prysuitdeling wees.