Die span van Lazers het Sondag geskiedenis gemaak toe hulle die gesogte Domino’s Summer Cup gewen het ná ’n naelbytstryd teen Rottweiellers in die eindstryd. Die wedstryd, wat deur ondersteuners as een van die beste van die toernooi beskryf word, het spanning, vasberadenheid en uitstekende spel en tegnieke na vore gebring.
Vanaf die begin toe die eerste domino gespeel is, was dit duidelik dat albei spanne gereed was om alles te gee om te wen. Lazers het vroeg momentum opgebou om die eerste helfte met sewe punte voor te loop. Hulle het selfvertroue gewys en die tempo van die wedstryd goed beheer.
Na rustyd het Rottweiellers egter met nuwe energie teruggekeer. Die span het uitstekende veggees getoon en begin om druk op Lazers uit te oefen.
Hulle het beter samewerking gegee wat daartoe gelei het hulle daarin geslaag om die agterstand uit te wis en op ’n stadium selfs die voortou te neem. Ondersteuners van albei spanne was op die punte van hul stoele terwyl die wedstryd heen en weer geswaai het.
Met net twee laaste potspelle oor het Lazers hul ervaring en kalmte gewys. Belangrike punte in die laaste oomblikke het die wedstryd finaal in hul guns laat kantel. Die eindtelling van 65-62 het bevestig dat Lazers weer eens die sterkste span van die toernooi is.
Die oorwinning beteken dat Lazers tans al die bekers wat hierdie seisoen beskikbaar was, gewen het. Hulle indrukwekkende vertoning het hulle gevestig as die span om te klop.
In die wedstryd om die derde plek het Challengers teen Mighty Warriors te staan gekom. Mighty Warriors kon egter nie bybly met die tempo van Challengers nie. Challengers het die wedstryd oortuigend met 77-55 gewen en daarmee die derde plek ingepalm.
Nou verskuif alle aandag na die komende liga.
Die groot vraag op almal se lippe is of Lazers weer vanjaar die ligabeker omhoog sal hou, en of ’n ander span uiteindelik hul kroon sal oorneem. (GRANWILLE GOLIATH)
Lazers wen Domino’s Summer Cup Beker
Van links agter: Granwille Goliath, Elton Wagenaar, Nigel Goliath, Romeo Prins, Mario Classen en Will-Brey Goliath. Links voor: Chanelle Lewis, Rosina Koeries, Lucian Jordaan, Roshay Pypers en Floriska Sederstroom. Foto verskaf.