Kango Landbou Gholfdag sorg weereens vir hope pret

Bo is die mans- wenners, Anton Theunissen en Daniël Boks, saam met Swart en Janse van Rensburg. Foto’s: Verskaf Onder: In die middel is die vrouewenners, Marnel en haar dogter Runé, saam met Makka Swart (klubkaptein) en Hennie-Edna Janse van Rensburg (Voorsitter Kango Landbou).

Die vierde Kango Landbou Gholfdag van Saterdag 7 September is weereens uitstekend onder-steun deur 99 “nie-gholfers” en 82 “regte” gholfers.

Volgens Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van Kango Landbouvereniging, groei hierdie gewilde gholfdag jaarliks en selfs mense wat geen gholfvaardigheid het nie, kan deelneem.

“Ons gholfdag groei jaarliks en vanjaar is 20 bowwe, 19 setperke asook die klubhuis deur maatskappye geborg. Op die baan is daar ook ‘natgate’ geborg om die spelers meer moed te gee, en daar was ’n heerlike broodtafel by die klubhuis”, het sy gesê.

Janse van Rensburg sê die doel van die dag was tweeledig. Eerstens om geld in te samel, en tweedens om geleentheid aan boere te gee om gesellig saam te kuier.

Geskenkbewyse en sowat 160 prysskenkings het gesorg dat geen speler wat aan die dag deelgeneem het, met leë hande huis toe gegaan het nie.

“Kango Landbou bedank almal wat bygedra het om hierdie dag so suksesvol te maak. Van die gholfklub en die kroegmanne, tot die besighede en boere wat pryse geskenk het. Sonder hulle sou die dag verseker nie moontlik kon wees nie,” het ’n dankbare Janse van Rensburg gesê.

Die fondse wat ingesamel is, word aangewend om ’n selfoontoring in Schoemanshoek op te rig sodat die boere in daardie omgewing goeie selfoonopvangs het.

Die wenners in die mansafdeling was Anton Theunissen en Daniël Boks met 49 punte.
In die vroueafdeling was Marnel en Runé Steyl met 48 punte in die eerste plek. (Deur Lindi Brill)