Kango Landbou-gholfdag ’n reuse sukses

Foto’s: Gabriël van der Westhuizen

Die Kango Landbou-vereniging-gholfdag wat die afgelope Saterdag by die Oudtshoorn Gholfklub aangebied is, was ’n sukses met altesaam 112 spelers wat deur die loop van die dag aan die pret deelgeneem het.

Die dag het vroeg begin toe die nie-gholfspelers en skoliere om 07:30 vir hul nege putjies afgeslaan het. Dié deel van die program het gesorg dat mense wat nie glad nie gholf, of gereeld gholf speel nie, ook die geleentheid kon kry om die baan aan te durf en in ’n ontspanne atmosfeer saam te kuier.

Die jong spelers het gewys dat daar reeds heelwat belowende gholftalent onder die streek se skoliere is, terwyl die nie-gholfspelers vir groot pret en ’n paar onvergeetlike oomblikke op die baan gesorg het. Die ernstiger en meer ervare spelers het om 11:00 afgeslaan.

Met ’n groot verskeidenheid pryse, gelukkige trekkings, lootjies en ’n veiling was daar deurgaans iets om na uit te sien. Roos-terkoeke en lekker saamkuier het verder tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Die gholfdag was uiteindelik veel meer as net ’n sportbyeenkoms. Dit was ’n dag waarop die Kango Valleie se landbougemeenskap, plaaslike ondernemings, skoliere en gholfliefhebbers saamgekom het om die landbouvereniging te ondersteun.

Kango Landbou bedank elke speler, borg en ondersteuner wat tot die sukses van die dag bygedra het. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Kango Landbou-gholfdag ’n reuse sukses"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*