Lede van die Oudtshoorn Toutrekklub maak gereed om teen van die wêreld se beste toutrekkers kragte te meet wanneer hulle van 16 tot 19 September aan die 30ste TWIF Buitelug-toutrek-wêreldkampioenskappe in Hartenbos, Mosselbaai, deelneem.
Die kampioenskappe word deur die SA Tug-of-War Federation in samewerking met die Eden Toutrek federasie aangebied en sal vooraanstaande klubs, nasionale spanne en atlete uit verskeie lande vir vier dae van strawwe internasionale kompetisie byeenbring.
Vir die Oudtshoorn Toutrekklub is deelname aan die wêreldkampioenskappe ’n besondere prestasie en die beloning vir maande se hard oefen, dissipline en spanwerk.
Toutrek verg veel meer as net fisieke krag. Tegniek, ritme, uithouvermoë en volkome samewerking tussen die agt lede van ’n span is noodsaaklik. Elke deelnemer moet presies weet wanneer om vas te trap, terug te sak en saam met die res van die span druk toe te pas.
Die plaaslike klub het die afgelope seisoen sterk presteer en sy plek tussen die land se mededingende toutrekklubs gevestig. Die geleentheid om nou op eie bodem aan ’n wêreldkampioenskap deel te neem, maak die prestasie selfs meer besonders.
Die kampioenskappe vind by die amfiteater in Hartenbos plaas. Die eerste deel van die byeenkoms bied aan klubs die geleentheid om internasionaal mee te ding, terwyl die nasionale afdelings later in die program aangebied word.
Die 2026-byeenkoms is ook besonders omdat Suid-Afrika as gasheer vir die internasionale toutrekfamilie optree. Deelnemers sal nie net om wêreldtitels meeding nie, maar ook nuwe bande met atlete uit ander lande smee en die sport op die hoogste vlak bevorder.
Vir die Oudtshoorn Toutrekklub is dit ’n geleentheid om die dorp, die Eden-streek en Suid-Afrika met trots te verteenwoordig.
Oudtshoorn het nóg rede om trots te wees: Hans Schutte sal Suid-Afrika in die nasionale 560 kg-mansspan verteenwoordig, terwyl Amelia Lubbe, een van Oudtshoorn Toutrekklub se junior afrigters, haar plek in die nasionale 500 kg-damesspan ingeneem het.
Albei sal die Groen-en-Goud tydens die wêreldkampioenskappe dra.
Die Hoorn het Dinsdagaand om 19:00 een van die klub se oefensessies bygewoon om eerstehands te sien hoe die span vir die wêreldkampioenskappe voorberei.
Die aandlug, donkerte en Klein Karoo-muskiete kon hulle nie afskrik nie.
Met hul spesiale toutrekstewels stewig in die grond geplant, is daar met erns, konsentrasie en hope gees geoefen.
Die oefensessie het gewys dat dié span nie bang is om enige uitdaging aan te durf nie—hetsy ’n sterk internasionale teenstander, die donker of ’n swerm honger muskiete.
Lesers kan ook uitkyk vir ’n lekker video wat Die Hoorn tydens die oefensessie gemaak het. Inwoners kry ’n kykie agter die skerms na die harde werk, tegniek en besondere spangees waarmee Oudtshoorn Toutrekklub vir die wêreldverhoog voorberei. (ANGELIQUE ERASMUS)
Oudtshoorn Toutrekklub gereed vir wêreldverhoog
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Oudtshoorn Toutrekklub gereed vir wêreldverhoog"