DIE Cape Cobras het Saterdag (7 Maart) hul eerste nederlaag op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) gely nadat die VKB Knights hul in ’n Momentum Eendagbekerwedstryd oortuigend verslaan het.
Die Knights het in hul boulbeurt die Cobras, wat eerste gekolf het, met uitmuntende boulwerk tot 172 lopies beperk met nog net een paaltjie staande.
Vir die Knights het Shaun von Berg (3/23), Andries Gous (2/9), Ottniel Baartman (2/24) en Jacques Snyman (1/26) dit byna onmoontlik gemaak vir die Cobras om op dreef te kom.
Aviwe Mgijima was die enigste Cobras-kolwer wat goed gekolf het met sy onoorwonne 44 lopies.
Die Cobras se gesukkel kan deels daaraan toegeskryf dat van hul sleutelspelers tans in die Protea-krieketspan opgeneem is.
In hul kolfbeurt het die Knights sommer gou die pap begin dik aanmaak en met meer as 22 boulbeurte oor die wenteiken van 173 lopies behaal vir die verlies van slegs drie paaltjies.
Vir die Knights het Patrick Kruger die Cobras se boulers aan flarde geslaan en ’n blitsige 60 lopies vanaf slegs 47 balle gemoker.
Ná hul puik oorwinning met ’n bonuspunt is die Knights nou vierde op die punteleer van die liga.
Die Knights het hul eerste vier Momentum-eendagwedstryde verloor. (Deur Stefan Skapie Goosen)