
Die 12-jarige Nika Odendaal, ’n leerder van Laerskool Wesbank, het onlangs uitstekende prestasies gelewer tydens twee belangrike junior tennistoernooie in Bloemfontein en haarself as ’n opkomende talent gevestig.
Tydens die Free State Super 8-toernooi, wat van 27 tot 31 Maart plaasgevind het, het Nika ’n verdienstelike 9de plek behaal uit ’n sterk veld van 44 o. 12-meisies. Sy het ook in die dubbelspel uitgeblink en saam met haar maat tot die halfeindronde deurgedring.
Kort daarna, van 1 tot 5 April, het sy aan die Junior Nasionale Kampioenskappe deelgeneem, waar slegs die land se topspelers kwalifiseer.
Nika het beïndruk deur die vyfde en 14de gekeurde spelers te klop en sodoende die kwart-eindronde te haal—’n besondere prestasie op nasionale vlak.
Sy het uiteindelik teen die topgekeurde speler, Linja Erasmus, vasgeval. Erasmus is later as kampioen gekroon, en Nika het die toernooi in ’n uitstekende 7de plek afgesluit.
Nog ’n belowende speler, Tameré Steward, ’n graad 10-leerder van Langenhoven Gimnasium, het ook haar merk gemaak deur 7de te eindig by die SA Nasionale Kampioenskappe. Tameré word afgerig deur Pieter van der Walt.
Nika word afgerig deur Johann Koch van die JK Tennis Akademie, en haar prestasies dui op ’n blink toekoms in Suid-Afrikaanse tennis.