Die jaarlikse Paasrugbytoernooi, aangebied deur Impact Sports Events, was vir die derde agtereenvolgende jaar ’n reusesukses en het weer eens spelers, ondersteuners en gemeenskappe bymekaar gebring vir ’n naweek vol aksie en talent. Spanne van laerskole, hoërskole en plaaslike rugbyklubs het aan die gesogte toernooi deelgeneem en hul beste op die veld gelewer.
Van die vroegste wedstryde af was dit duidelik dat die jong spelers nie terugstaan vir die groter spelers nie. In die laerskoolafdeling het Bergsig Primêre Skool en Sacred Heart Primêre Skool mekaar in die eindstryd gepak. Sacred Heart het egter hul kanse beter benut en uiteindelik as wenners uit die stryd getree, tot groot vreugde van hul ondersteuners.
Die hoërskoolafdeling het ook nie teleurgestel nie. Bridgton Senior Sekondêre Skool het in die finaal teen Protea Hoërskool te staan gekom. Albei spanne het vasberade gespeel, maar Bridgton het hul oorheersing gewys en die wedstryd gewen om as kampioene gekroon te word.
Die hoogtepunt van die toernooi was sonder twyfel die eindstryd tussen Harlequins RFC en Hampshires. Die wedstryd het met groot intensiteit begin, met Harlequins wat vroeg die voortou geneem het en soos gunstelinge gelyk het om weer die beker omhoog te hou. Hul gestruktureerde spel en aanvallende druk het Hampshires aanvanklik op die agtervoet geplaas.
Hampshires het egter in die tweede helfte ’n merkwaardige terugkeer gemaak. Met vasberadenheid en spanwerk het hulle die momentum begin draai en Harlequins se verdediging onder druk geplaas. Hul pogings is beloon toe hulle kritieke punte aangeteken het en uiteindelik die oorhand gekry het.
Die eindtelling van 27–21 in Hampshires se guns weerspieël die strawwe mededinging en hoë gehalte rugby wat deur beide spanne gelewer is. Die oorwinning was ’n bewys van Hampshires se deursettingsvermoë en taktiese spel.
Die toernooi het weereens gewys dat rugby op alle vlakke floreer en dat jong talent volop is. Impact Sports Events verdien lof vir die suksesvolle aanbieding van nog ’n onvergeetlike sportgeleent-heid wat sekerlik nog lank onthou sal word. (GRANWILLE GOLIATH)
Harlequins val vas teen Hampshires
Foto's verskaf.