Jacques en Bernard die 2021 enkelspelkampioene

Bo: Van links is Josh Daniel, Jacques de Beer, Louis Uys en Phillip Nel ná hul dubbelspeleindstryd. Onder: Die 14-jarige Bernard Smit in aksie. Foto’s: Garnett Wicomb

Jacques de Beer en Bernard Smit (14) is in hul onderskeie afdelings die Wesbank Tennisklub se enkelspelkampioene vir 2021, terwyl De Beer ook saam met Josh Daniel die dubbelspeltitel ingepalm het. Die eindstryde is Saterdag (19 Junie) gespeel.

De Beer het met skitterspel gewys waarom hy vir Suid-Afrika gekies is om later vanjaar in Kroasië aan die wêreldseniorskampioenskap te gaan deelneem toe hy die jonger Daniel in ’n spannende eindstryd met 6-3, 6-3 geklop het.

Die wedstryd is gekenmerk deur lang sarsies, grotendeels vanaf die agterbaan.

Smit het afdeling B gewen toe hy Leroy Colyn ná ’n titaniese stryd wat byna drie ure geduur het, met 6-4, 6-7 en 6-4 verslaan het.

In die mansdubbelspeleindstryd het De Beer en Daniel vir Phillip Nel en Louis Uys met 6-2, 6-3 geklop.
Hyde herkies tot voorsitter

In ander tennisnuus is Debra Hyde van die Knysna Tennisklub op die 25ste algemene jaarvergadering van die Eden Seniors Tennisvereniging onbestrede tot voorsitter herkies, en so ook die vise-voorsitter, Des Sampson, en die tesourier, Karin Deltenre.

Jackie Muller is tot sekretaresse verkies. Die res van die bestuur vir 2021/22 is Ernst Kok, Hanlé Kok en Ayanda Nontshinga.

Volgens Hyde het Eden Tennis nog ’n goeie jaar agter die rug ondanks die Covid-19-pandemie.

Hoewel die Eden Seniors ope kampioenskap in Desember minder spe-lers gelok het, het dit weer vir goeie tennis gesorg terwyl die gewilde Fritz Meissner-spankompetisie en die Franklin skild-troernooi ook met sukses afgehandel is.

Eden Tennis is baie trots op die getal spelers van die streek wat onlangs gekies is om Suid-Afrika later vanjaar in Umag, Kroasië, by die wêreldseniorskampioenskap te gaan verteenwoordig, sê Hyde.

Hulle is Christine van Coller, Rida Bester, Debra Hyde, Jacques de Beer, en Guillaume Oberholster.

Van Coller, Oberholster en De Beer is boonop ook as kapteins van hul onderskeie spanne aangewys.

Volgens Hyde is dit vir ’n klein sportprovinsie soos Eden ’n besondere prestasie en veer in die hoed. (Deur Garnett Wicomb)