
Oudtshoorn, is julle reg vir die 29ste Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe, wat Saterdag 12 Julie 2025 by die Red Rock Raceway buite die dorp plaasvind?
Vanjaar beloof om soos vorige jare weer toe- skouers se harte vinniger te laat klop wanneer renjaers van regoor die land mekaar die stryd aansê. Die soet reuk van metanol en die brom van enjins gaan die Klein Karoo-lug vul.
Daar is die afgelope tyd hard gewerk om die baan, asook die stutmure op te knap. Die baan lyk soos ’n splinternuwe sikspens te danke aan die harde werk van verskeie persone en instansies.
Ingangsfooie beloop R150 vir volwassenes en kinders vanaf 13 jaar en R50 vir kinders van 12 jaar en jonger. Toegang vir kinders onder 5 jaar is gratis. Die aksie gaan vuurwarm wees, terwyl die weer lekker koud gaan wees. Pak dus warm klere en komberse in. Minimum temperatuur vir die oggend is slegs 1 graad met ’n maksimum van 15 grade met geen reën wat voorspel word nie.
Daar is 126 inskrywings in agt kategorieë wat Stock Rods, Ninja Rods, Hot Rods, 2.1 Modifieds, Midgets, American Saloons en Heavy Metals insluit.
Volgens Dirk van der Westhuizen, bekende in ovaalbaankringe en organiseerder van dié byeenkoms wat een van die grootstes in die land is, is daar genoeg plek vir toeskouers.
Vir dié wat nie daar kan wees nie sal daar ’n regstreekse uitsending deur André Oosthuizen wees wat teen R200 vanaf 12:30 op motorsportza.tv gevolg kan word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Die mure het ’n splinternuwe wit verflaag gekry. Foto Facebook

Opknappings is aan die stutmuur gemaak. Foto Facebook
