Hungry Lions eerste Big Bash T20-wenners

Tyrese Carelse van Hungry Lions wat vyf paaltjies vir slegs nege lopies platgetrek het. Foto: Garnett Wicomb

DIE Hungry Lions was Sondag (13 Februarie) die eerste wenners van die Big Bash T20 Vlakkiekriekettoernooi op Oudtshoorn toe hulle Pro Stars in die eindstryd op Mandelapark, die stuk grond regoor die ou Alpha Teater, met tien paaltjies geklop het.

Pro Stars het eerste gekolf en jammerlik met die kolf misluk.

Die span se kolwers het klippe gekou teen die skitterende boulwerk van veral Tyrese Carelse wat vyf paaltjies vir nege lopies platgetrek het, en goed bygestaan is deur Jean Campher (2/1) en Jean Murphy (2/4).

Pro Stars kon net 28 lopies bymekaarskraap.

Hungry Lions se aanvangskolwers, die kaptein Cameron Rhode en Ricardo Petersen, het min moeite ondervind om die wenteiken te bereik.

Die wentjek van R3 000 is deur die burgemeester van Oudtshoorn, Chad Louw, geskenk en die toernooi is deur Sport Buddy Charity aangebied. (Deur Garnett Wicomb)