‘Hotrods’ jaag Saterdag op Oudtshoorn

Foto verskaf

Foto verskaf


Twaalf van Tygerberg Raceway in Kaapstad se vinnigste “hotrods” kom vandag (Vrydag 9 Junie) in George en môre (Saterdag 10 Junie) op Oudtshoorn teen die plaaslike jaers van Oudtshoorn en die Suid-Kaap meeding. Die toer wat as die Best Against the Rest bekend staan, lok wye belangstelling onder motorgeesdriftiges van heinde en verre.

Dylan Nel, die huidige SA Kampioen (MSA Affiliasie), gaan vir die eerste keer teen Piet Scheepers van PE, die ZA Kampioen (WOMZA Affilia- sie) te staan kom. Dit gaan beslis die hoogtepunt van die twee aande wees.

Barend du Plessis van Bloemfontein het ook in die 2.1 Klas ingeskryf en sy tweestryd teen Hendricus Botha en Burger van der Westhuizen van Oudtshoorn en Alistair Simpson en Christopher Burisch van George gaan vir groot opwinding sorg.

Die wedrenne dien ook as die finale kwalifiserende wedrenne om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap op 24 September in Kimberley deel te neem.

André Nel en André Fouche, albei van Oudtshoorn het reeds gekwalifiseer, maar sal nogtans alles uithaal om die eerste plek op die kwalifiserende lys te beklee.

Hulle sal egter vir Juan van Rensburg van George goed moet dophou. Hy mag dalk die twee voorlopers se kaarte erg deurmekaar krap.