Deur Wyndham Ewerts
DIE Heidelberg Rugbyklub is Dinsdag, 7 Augustus, op twee aanklagte kragtens die SWD Rugby se gedragskode vir spelers skuldig bevind.
Die twee aanklagte spruit uit ’n voorval wat op Saterdag, 21 Julie, op Heidelberg se tuisveld plaasgevind het nadat die span sy SWD Premierligawedstryd teen Bridgton Rugbyklub verloor het.
Dit blyk dat die loesing op Never Lose Park, soos die Heidelbergers hul tuisveld noem, vir hulle eens te veel was.
Heidelberg is in ’n tugverhoor daaraan skuldig bevind dat ’n Heidelbergspeler die skeidsregter aangerand het en dat die klub toegelaat het dat toeskouers alkohol in hul voertuie by die stadion ingebring het.
Weens die oortreding is Heidelberg met R1000 beboet, wat onmiddelik aan die SWD Rugbyunie betaalbaar was, asook geskors tot die einde van die 2020-seisoen.
Die skorsing van die 2019- en die 2020-seisoen is egter opgeskort onderhewig aan die volgende vereistes:
• Die speler wat die skeidsregter aangerand het, moet uitgewys word sodat teen hom opgetree kan word;
• Die heining om die veld moet versterk word tot bevrediging van die SWD se skeidsregtervereniging; en
• Die klub moet ’n sekuriteitsplan, wat insluit dat voertuie deursoek kan word, voorlê en implementeer.