Spring Roses dring na kwarteindronde deur

Deur Wyndham Ewerts
DIE eerste span van Spring Roses het Beaufort-Wes in ’n SWD Premierligawedstryd in Beaufort Saterdag met 68-34 verslaan om vir homself ’n plek in die uitspeelrondes van die liga te verseker.

Spring Roses het met hul bonuspuntoorwinning vir All Blacks uitgeskakel en is nou die enigste Karoostreekspan wat in die kwart-eindrondes van die Presidentsliga gaan speel en wat nog ’n kans staan om na die Premierliga deur te dring.

Vir Spring Roses, wat halftyd al 33-12 voorgeloop het, het Minno Tiemie (flank) vier drieë gedruk.

Scott Pretorius (vleuel) en Riaan van Wyngaard (agtsteman) het elkeen twee drieë gedruk.

Voorts het Mornè Basie (kaptein en slot) en Dominique Smit (heel-agter) elkeen een drie gedruk.

Smit was ook in die kol met nege doelskoppe.

Volgens Pieter Lottering, spanbestuurder van Spring Roses, is die span baie trots om vir die eerste keer in die klub se geskiedenis na die uitspeelrondes deur te dring.

“Hierdie seisoen was daar ’n ongelooflike intensiteit en kalmte te bespeur by ons spelers wat vroeër nie daar was nie.

“Dit is duidelik dat die spelers vanjaar vir mekaar speel. Die gees in ons kamp is ongelooflik en die manne glo vas hulle kan na die halfeindronde deurdring,” sê hy.

Die bestuur en die ondersteuners is baie trots op wat hierdie span tot dusver vermag het ongeag wat verder in die liga gebeur, het hy bygevoeg.

Spring Roses speel Saterdag op die Bridgton Sportgronde in die kwarteindronde teen Jaquars van Knysna.