Deur Wyndham Ewerts
DIE ondersteuners van die Bridgton Rugbyklub het Saterdag vergeefs by die Plate gewag vir Bridgton Rugbyklub om sy laaste SWD Premierligawedstryd van 2018 te speel.
Die wedstryd moes egter afgelas word omdat hul teenstanders, Silver Stars van George, nie opgedaag het nie.
Al het Bridgton vyf ligapunte hier-voor ontvang, het hulle nie die eindrondes gehaal nie.
Hoewel Bridgton en Evergreens van George albei 59 ligapunte op die punteleer gehad het, dring Evergreens na die halfeindronde deur om-dat hulle ’n beter punteverskil het.
Al kans wat Bridgton gehad het om na die uitspeelrondes deur te dring was om Silwer Stars met minstens 161-0 te klop.
Kobus Petersen, Silver Stars se sekretaris, beweer hy het vooraf ’n e-pos aan Benito Mtembo, voorsitter van Bridgton, en
Vanessa Roelfse, wnde uitvoerende hoof van SWD Rugby, gestuur om hulle in te lig die klub onttrek hom aan die wedstryd.
“Ons het Bridgton wel meegedeel dat ons tot op die laaste ons bes sal doen om te gaan speel. Ons kon egter bloot nie genoeg spelers kry om ’n mededingende span saam te stel nie.”
Mario Jansen, afrigter van Bridgton, het gesê die klub het baie daarna uitgesien om sy laaste wedstryd voor sy tuisskare te speel om dankie te sê vir hul lojale ondersteuning die afgelope jaar ondanks baie uitdagings wat die klub vanjaar ondervind het.
‘Ons sal beslis volgende jaar as ’n beter span terugkeer,” het hy gesê.
• Evergreens het Saterdag sy SWD Premierligawedstryd op George teen Heidelberg met 36-30 gewen.
As hulle dié wedstryd nie met ’n bonuspunte gewen het nie, sou Bridgton na die halfeindronde deurgedring het.
Evergreens speel nou Saterdag op George in sy halfeindstryd teen Progress. In die ander halfeind speel Barbarians teen Crusaders in die D’Almeidastadion in Mosselbaai.