Hearts bo in taai stryd

Adrian Booysen (stut) en Ishmael Booysen (vleuel) van Willing Hearts besig om ’n speler van Harlequins om te dop.  Foto: Wyndham Ewerts

Adrian Booysen (stut) en Ishmael Booysen (vleuel) van Willing Hearts besig om ’n speler van Harlequins om te dop. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
IN ’n taai wedstryd tussen die twee voorlopers in die SWD Presidentsliga het Willing Hearts van Prins Albert Saterdag vir Harlequins op Oudtshoorn met 30-14 geklop.

Die stryd, waarin geen genade gegee of gevra is nie, is gespeel op die Infanterieskool in Parkweg se sportgronde, wat Harlequins se tuisveld is.

Willing Hearts moes in ’n stadium diep delf om ’n begeesterde Harlequins voor sy tuisskare te klop.
Harlequins was ná 20 minute se spel eerste op die telbord toe sy voorspelers druk toegepas het wat gelei het tot ’n drie deur die span se linker-vleuel, Hayren Alberts, vanaf die middellyn. Keenan Esua (skrumskakel) se doelskop was mis (5-0).

Willing Hearts het hierna geleidelik die oorhand begin kry, en het sy sterk buitesenter, Marshall Kayser, sowat 10 minute later oorgeval vir ’n drie. Jaco Hendricks (binnesenter) het verdoel. Hy het voor halftyd ook met twee strafdoele geslaag vir ’n rustydtelling van 13-5.

Ná halftyd het Harlequins se ondersteuners weer moed begin skep nadat Esau ’n strafdoel behaal het, gevolg deur ’n opportunistiese skepdoel deur sy skakelmaat Jean Dido.

Die telling was nou 13-11.

Hul optimisme was egter van korte duur deurdat die besoekers se Elton Darries en Adrian Lodewyk kort daarna elk ’n drie gedruk het. Hendricks het albei verdoel en ook ’n strafdoel behaal om die telling 30-11 te maak.

Die enigste verdere punte was ’n strafdoel deur Esau van Harlequins.

Willing Hearts se Hendricks verdien ’n pluimpie deurdat hy nie net sy skopskoene aangehad het nie, maar ook telkens aan die voorpunt was tydens sy span se aanvalle.
• Willing Hearts B het Harlequins B met 29-22 verslaan.