Groot meestersatletiek op Oudtshoorn

Deur Higgo Jacobs
DIE SWD Meestersatletiekkampioenkap tesame met ’n talentidentifiseringsbyeenkoms vind môre en Saterdag op die De Jagerstadion op Oudtshoorn plaas.

Die provinsies wat saam met SWD aan dié toernooi deelneem, is WP, OP, Gauteng-Noord en Boland. Meer as 300 atlete word verwag.

Toy Ungerer, voorsitter van SWD se Meestersatletiekvereniging, sê leerders in die ouderdomsgroep 15 tot 17 jaar oud word na die toernooi genooi om skole die geleentheid te gee om hul talentvolle atlete vroegtydig te identifiseer en gereed te kry vir die atletiekseisoen wat voorlê.

Ingo Hildebrand van Oudtshoorn wat in April vanjaar oorlede is, sal ook by vanjaar se kampioenskap gehuldig word.

Die toernooi begin Vrydag om 14:00. Benewens die baannommers sal daar in vyf veldnommers meegeding word, naamlik spiesgooi, diskus, hamergooi, massabal en gewigstoot.

Saterdag se program begin reeds om 07:00 met die 5000m stap en hardloop.

Ungerer sê sy is tevrede met die toestand van die baan en die stadion in die algemeen. “Ek bena-der die byeenkoms met ’n positiewe gesindheid en is baie dankbaar vir die opknappingswerk wat die Oudtshoorn Munisipaliteit aan die baan, hekkies en stadion gedoen het. Ek het met die regte mense gaan praat en ons het goed saamgewerk.”

Ungerer is reeds die afgelope 10 jaar gemoeid met die bestuur en organisering van byeenkomste van SWD Meestersatletiek in die streek.

“Ek wil graag sien dat iemand anders nou hier-die verantwoordelikheid by my oorneem. Ek gaan egter nog voort om te hardloop en aan byeenkomste deel te neem,” het sy vandeesweek gesê.

• Baie van die atlete vertrek eers weer Sondag terug na hul onderskeie bestemmings en plaaslike gastehuise, hotelle en restaurante vind baat by die groot getal atlete en hul ondersteuners wat Oudts­hoorn besoek.