Goue Toy SA aangewys as Meestersatletiek se SA Sportvrou van 2017

Toy Ungerer ontvang 'n eretoekenning verlede jaar van Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (links), en die onder-burgemeester, Noluthando Mwati, nadat sy met 'n wêreldrekord en twee goue medaljes van die 2016-wêreldmeestersatletiekkampioenskap terugggekeer het.

Toy Ungerer ontvang ‘n eretoekenning verlede jaar van Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (links), en die onder-burgemeester, Noluthando Mwati, nadat sy met ‘n wêreldrekord en twee goue medaljes van die 2016-Wêreldmeestersatletiekkampioenskap terugggekeer het.

HULLE noem haar die vrou met die goue voete – Toy Ungerer van Oudtshoorn wat die naweek deur SA Meestersatletiek as Suid-Afrika se Sportvrou van 2017 gekroon is.

Toy het die afgelope naweek weer twee goue medaljes losgehardloop het by die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkanpioenskap en getoon sy is nog net so ’n ster op die atletiekbaan as verlede jaar toe sy ’n wêreldrekord en twee goue medaljes by die wêreldbyeenkoms in Perth losgehardloop het.

Sy het die naweek tydens die SA Meestersatletiek in die Groenpunt Stadion in Kaapstad beide items waaraan sy deelgeneem het, die 100 m en 200 m vir vroue 70 plus, gewen. Ongelukkig het ’n sterk wind wat tydens die kompetisie gewaai het, deelnemers in groot mate verhinder om vanjaar nasionale en provinsiale rekords te verbeter.

Toy is met die toekenning van SA Meestersatletiek se Sportvrou van 2017 by ’n funksie Saterdagaand vereer. Sy het ook die vierde keer SA kleure ontvang, asook  sertifikate vir haar wêreldrekord in die 400 m by die wêreldbyeenkoms in Perth verlede jaar en twee goue medaljes in 100 m en 400 m in Perth.

Twee van Oudtshoorn se ander deelnemers aan die SA Meesterskampioenskap het ook uitgeblink.

Die veelsydige Johann Coetzer spog na die byeenkoms met twee silwer medaljes, naamlik in die driesprong en in die verspring mans 55 plus. Met die verspring het Coetzer boonop die SWD-rekord vanaf 4,37 m tot 4,87 m verbeter. Hy het ook aan die hoogspring deelgeneem waarin hy vierde geplaas is.

Die veteraan Lampies Lamprecht het ook met ’n silwer medalje huis toe gekom vir sy vertoning in die 10 000 m mans 65 plus. (Berig deur Liesel le Royx)