
Die grys en nat reënweer het beslis nie gholf entoesiaste Saterdagoggend gestuit tydens die Klein Karoo Toyota Gimmie-Gholfdag nie.
Vier-en-veertig spelers het aan die dag deelgeneem, waar fondse ten bate van die skool ingesamel is. Daar kan met trots gesê word dat die skool se teiken vir die dag gehaal is. Spelers kon tydens die 18 putjies by verskeie nat en droë gaatjies verskeie kos en drinkgoed geniet.
Daar het selfs twee dinosourusse en twee flaminke by die opwindende gholfdag ’n draai kom maak.
Tydens die prysuitdeling is ’n koek opgeveil wat deur Langenhoven Gimnasium se gasvryheidstudiesleerders gebak en versier is. Die prysuitdeling was ’n gesellige kuier, en daar was selfs meer pryse as deelnemers.
Die skool bedank graag sy lojale ondersteuners, die hoofborg, asook elke besigheid wat ’n putjie die dag geborg het en tot die groot sukses bygedra het.
“Baie dankie aan elke speler, borg en ondersteuner wat deel was van hierdie wonderlike dag. Ek het my eerste Gimmie-Gholfdag as deel van die Gimmie-familie ongelooflik baie geniet en sien uit daarna om volgende jaar se dag nóg groter en beter te maak. Ons sien almal weer op die gholfbaan!” sluit Carl Snyman, Langenhoven Gimnasium se skoolhoof af. (ANGELIQUE ERASMUS)