Gewilde Timbercity sake-aflos Maart hier

’n Toneel uit ’n vorige Timbercity Klein Karoo Sake-aflos. Foto: Argief

DIE gewilde Timbercity Klein Karoo Sake-aflos skop Donderdag, 2 Maart af en skuif terug na Baron van Reedestraat. Die atlete sal om 18:00 wegspring.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit is vanjaar betrokke as vennoot van die Klein-Karoo Atletiekfonds (KKAF), wat die aflos elke jaar aanbied.

“Ons is opgewonde oor die vennootskap van die munisipaliteit, en dat dit die toekoms en lewensvatbaarheid van die aflos verseker,” het Dave van der Walt, operasionele bestuurder van KKAF aan Die Hoorn gesê. Oudtshoorniete kan in spanverband deelneem aan ‘n stap- of hardloopaflos.

Die hardloopkategorie bestaan uit ses atlete wat elk 2 km hardloop, terwyl die stapkategorie uit slegs vier bene van 2 km bestaan.

Hardloopspanne kan in vyf kategorieë deelneem: mans, dames, gemeng (2 mans en 2 dames), hoërskole en laerskole. Stap bestaan uit vier persone van enige geslag.

Die SSKF nooi alle staats- en semistaatsinstellings soos die SANW, SAPD, Departement van Gesondheid en die Oudtshoorn Munisipaliteit om spanne in te skryf.

Kostes om deel te neem is R25 per deelnemer, met ander woorde ’n hardloopspan kos R150 en stapspanne R100. Deelnemers ontvang almal brons medaljes terwyl die wenspanne van elke kategorie goue medaljes kry.

Daar sal ook heelwat gelukstrekkings (“Lucky draws”) wees asook ’n “Fancy Dress”-prys vir die span met die mees oorspronklike kostuums.

Die prysuitdeling sal teen 20:00 afgehandel wees.

Inskrywingsvorms is beskikbaar by Die Hoorn se nuwe perseel, Hoogstraat 157, of by die Oudtshoorn Toerismekantoor. Dit kan ook daar ingehandig word. Deelnemers kan ook elektronies by www.entryninja.com/events/78837-klein-karoo-business-relay inskryf.

“Die KKAF is ‘n nie-winsgewende organisasie wat glo deur geleenthede vir sportdeelname te skep, dit help om sporttalent te ontwikkel en ook nuwe verhoudings in die groter Oudtshoorn gemeenskap te skep en te bevorder,” sê Hans van der Veen, voorsitter van die KKAF.

Vanjaar se sake-aflos word in samewerking met Jakhals Events en onder die vaandel van Atletiek SWD met ondersteuning van die Oudtshoorn Besigheidskamer aangebied.

Vir meer inligting, kontak Corné Botha by 074 260 2871. (Deur Angelique Erasmus)