Die 43ste Freda Barnard Swemgala het vanaf 17-20 Oktober by die NA Smit swembad in Oudtshoorn plaasgevind.
Hierdie was ook die eerste gala sonder die teenwoordigheid van Freda Barnard. Sy is in Desember oorlede. Volgens haar skoondogter, Lyzette Barnard, is dit vir hulle ’n bittersoet oomblik.
“Haar jongste kleinkinders, Kenzy Barnard (12) en Christiaan van Biljon (16), swem hierdie naweek in die gala, so die familie is nog steeds betrokke by die geleentheid”, het Barnard aan Die Hoorn gesê.
Hierdie gala is weer terug in Oudtshoorn, nadat dit die afgelope twee jaar na George geskuif is as gevolg van die verswakte watergehalte en verouderde fasiliteite by die NA Smit swembad.
Die munisipaliteit van Oudtshoorn het egter hul vere reggeskud en die swembad met nuwe wegspringblokke en baantoue verbeter. Nuwe tegnologie wat elektroniese tydhou-apparaat insluit, is ook geïnstalleer.
Die gala het vanjaar 440 swemmers van verskillende swemklubs gelok. Volgens die organiseerders is hulle sowel as deelnemers en ondersteuners in die wolke dat die gala weer terug is in Oudtshoorn. (LINDI BRILL)
Geliefde Gala weer terug in Oudtshoorn
Swemmers van reg oor die Wes-Kaap het aan die 43ste Freda Barnard Uitnodigingsgala wat vanaf 17-20 Oktober by die NA Smit swembad plaasgevind het deelgeneem. Foto: Lindi Brill