Sedert Woensdag is die lugruim bokant die Oudtshoorn lughawe ’n skouspel van luggakrobate. Die Nasionale Lugakrobatiese Kampioenskap wat Woensdag begin het, duur tot Sondag 26 Oktober.
20 Vlieëniers neem deel in die sportman-, intermediêre-, gevorderde- en onbeperkte klasse om hulle akrobatiese tegnieke ten toon te stel.
Die kampioenskap is ook ’n spesiale geleentheid vir die Sport Akrobatiese Klub van Suid-Afrika, aangesien dit die viering is van hul 50ste bestaansjaar.
Volgens Johnny Smit, een van die beoordelaars van die kampioenskappe, moet die vlieënier sy toertjies in ’n baan, wat met duidelike bakens uitgemerk word, uitvoer. As die vliegtuig buite daardie afgebakende gebied beweeg, word die vlieënier gepenaliseer.
Die vlieënier het ook ’n kortskrif-kaart by hom in die kajuit, wat sy bewegings vir hom uitlê.
Volgens Warren Eva van die klub is hulle uiters opgewonde oor die naweek se kompetisie en baie dankbaar oor die vriendelikheid waarmee Oudtshoorn hulle ontvang het.
“Ons is ongelooflik hartlik verwelkom deur almal met wie ons so ver te doen gehad het met die aanvanklike reëlings asook die vlieëniers wat vooraf geoefen het. Veral dankie aan TFASA en die Aeroklub wat hul fasiliteite tydens ons besoek beskikbaar gestel het,” het Eva aan Die Hoorn gesê.
Aangesien dit nie ’n lugskou is nie, maar ’n kompetisie met uiters streng veiligheidsregulasies, kan die publiek nie binne die lughawe toegelaat word nie. (LINDI BRILL)