Die Garden Route Badgers se uitstekende 2025/26-seisoen is opnuut beklemtoon met vier finaliste wat vir die gesogte Cricket South Africa (CSA) Jaarlikse Toekennings genomineer is. Die glansgeleentheid vind op 16 Julie by die Sandton Konferensiesentrum plaas onder die tema “Crowning Glory” en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
Die jaarlikse toekenningsgeleentheid vereer die beste spelers, afrigters en ontwikkelaars vir hul prestasies gedurende die krieketseisoen van 1 Mei 2025 tot 30 April 2026. Dit was ’n besonderse jaar vir Suid-Afrikaanse krieket, met die Proteas-manspan wat die ICC Wêreldtoetskampioenskap op Lord’s gewen het, terwyl die Protea-vrouespan vir ’n derde agtereenvolgende keer die eindstryd van die ICC Vroue T20-Wêreldbeker gehaal het.
Die Garden Route Badgers het sterk verteenwoordiging onder die finaliste. Nicolien Janse van Rensburg, een van die uitblinkers in die Badgers se vrouespan, is genomineer in die kategorie Hollywoodbets Pro50-reeks Speler van die Seisoen.
Haar konsekwente vertonings met kolf en bal het haar as een van die voorste spelers in die kompetisie gevestig.
Die hoofafrigter van die Badgers-manspan, Lotle Sesele, is ’n finalis vir Mansafdeling 2 Afrigter van die Jaar. Onder sy leiding het die span deurgaans mededingende krieket gespeel en aansienlike vordering gedurende die seisoen getoon.
Nog ’n Badgers-uitblinker, Liam Alder, wat as die span se Speler van die Seisoen aangewys is, is ’n finalis in die kategorie Mansafdeling 2 Vierdaagse Kompetisie Speler van die Seisoen. Sy uitstekende bydraes het ’n sleutelrol in die span se sukses gespeel.
Kaptein en produktiewe lopiemaker George van Heerden is ook onder die finaliste. Hy ding mee vir die toekenning as Mansafdeling 2 T20- Uitklopkompetisie Speler van die Seisoen nadat hy deurentyd met die kolf uitgeblink en sy span met onderskeiding gelei het.
Die vier benoemings is ’n bewys van die groei en ontwikkeling van krieket in die Tuinroete en weerspieël die harde werk van spelers, afrigters en ondersteuningspersoneel. Die Garden Route Badgers kan met reg trots wees op hul verteenwoordiging op nasionale vlak en hoop dat hul uitblinkers tydens die glansaand met een of meer van die gesogte CSA-toekennings bekroon word.
Hierdie erkenning bevestig die Badgers se toe-nemende status as een van die voorste krieket-unies in Suid-Afrika se Afdeling 2-struktuur.
Garden Route Badgers spog met vier CSA-toekenningfinaliste
Nicolien Janse van Rensburg. Foto verskaf.