Deur Higgo Jacobs
Louis Fourie sr het Saterdag die Oudtshoorn Gholfklub se gholfdag waarin spelers slegs drie stokke van hul keuse plus ’n setstok in hul gholfsakke mag gedra het, met ’n telling van 39 punte gewen.
Te oordeel aan die tellings wat die dag aangeteken is, het spelers nie juis swakker met minder stokke as met al hul stokke gevaar nie.
Desmond Malgas, ook met 39 punte, was op ’n uittel tweede en Marthinus Oosthuizen (34 punte) derde.
Twee vrouespelers, Anneline Badenhorst en Celeste Barnard, albei met 33 punte, was op ’n uittel onderskeidelik vierde en vyfde.
Barnard, Malgas en Fourie het die boerpot gedeel.
Pieter Pretorius het op die agtste putjie die naaste aan die pen geslaan en ook ’n spogtwee op dié putjie behaal. Dirkie Kuhn het op die twaalfde ’n spogtwee geslaan.
• Woensdag, 27 Junie, se individuele stableford is deur Etienne Roos met ’n telling van 39 punte gewen. Colin Swigelaar (38) was tweede en Pieter Pretorius en Pieter du Plessis, albei met 37, op ’n uittel onderskeidelik derde en vierde. Lollies van Rensburg (36) was vyfde. Die boerpot is deur Nelis Janse van Rensburg, Pretorius en Du Plessis gedeel.
Anneline Badenhorst het op die 12de putjie die naaste aan die pen geslaan. AO Theunissen het ’n spog-twee op die derde putjie geslaan en CP Nel op die twaalfde.