Die spelers van Firestones met Die Herrie-wisseltrofee wat hulle Sondag vir die tweede jaar agtereenvolgens gewen het. Foto: Garnett Wicomb
• Vlakkiekrieket
Deur Garnett Wicomb
DIE Firestones het Sondag die tweede jaar agtereenvolgens die jaarlikse Oudtshoorn Premierliga (OPL) Sportontwikkelings Vlakkiekriekettoernooi op die ou rugbyveld van die destydse Onderwyser-kollege Suid-Kaapland gewen.
Die toernooi om Die Herrie-wisseltrofee het op ’n anti-klimaks geëindig toe Spartans ná ’n onderbreking van langer as ’n uur weens ’n stukkende bal geweier het om verder te speel omdat die lig volgens hulle te sleg was.
Firestones het eerste gekolf en 99/7 aangeteken. Spartans het verder gekolf toe ’n nuwe bal uiteindelik gevind is, maar met sy telling op 67/7 besluit om nie verder te speel nie.
Die organiseerders het besluit om die wedstryd aan Firestones toe te ken omdat spel nie deur die skeidsregters gestaak is nie.
In die wedstryd om die derde en vierde plekke het Team Players die Legends met 40 lopies geklop. Team Players het eerste gekolf en in sy toegelate 20 boulbeurte 97 lopies aangeteken waarna Legends vir 57 uitgehaal is.
In ’n afdeling vir o.13-spelers waaraan tien spanne deelgeneem het, het die Lane Boys die Hopes met 5 paaltjies verslaan.
Hopes het eerste gekolf en in sy toegelate sewe boulbeurte 54 lopies aangeteken waarop die Lane Boys die wenlopies met nog twee balle oor aangeteken het.
In die afdeling vir o.7’s waaraan agt spanne deelgeneem het, het die Young Players vir Star Wars in die eindstryd met 2 lopies geklop.
Gavin Pietersen, hoofuitvoerende beampte van die OPL het sy kommer uitgespreek oor die optrede van Spartans en gesê dat ’n tugverhoor beslis gehou sal word. Volgens hom word dissipline vooropgestel.
“Die breek van die bal was wel ’n probleem, maar ons het met die kaptein van Spartans gepraat. Hy het versoek dat die wedstryd uitgestel word, maar dit was nie moontlik nie omdat die lig nog goed genoeg was en daar ook nie ander beskikbare datums is nie. Die SUFF Top 4-toernooi begin die naweek,” het Pietersen gesê.

Die Young Players wat die afdeling vir o.7-spelers gewen het. Hulle het Star Wars in die eindstryd met 2 lopies geklop. Foto: Garnett Wicomb