Equin Josephs mik na nuwe hoogspringhoogtes

Foto verskaf.

Die jong hoogspringtalent Equin Josephs van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn is besig om sy naam stewig in Suid-Afrikaanse atletiek te vestig.

Die o.17-atleet is tans die tweede beste hoogspringer in sy ouderdomsgroep in Suid-Afrika en het reeds ’n indrukwekkende hoogte van 2,04 m behaal.

Equin is ’n lid van Bridgton Atletiekklub, waar hy onder die bekwame leiding van afrigter Marius de October, wat ook die klub se voorsitter is, afgerig word. Sy ontwikkeling oor die afgelope twee jaar wys duidelik dat hy ’n atleet met groot potensiaal is.

Sy suksesverhaal het reeds vroeg in 2025 momentum gekry toe hy onder die top 10 van die Kwagga-kompetisie geëindig het. Hy het tydens die byeenkoms sy merk gelaat deur ’n hoogspringrekord van 1,93 m op te stel en die eerste plek te behaal.

Sy huidige beste sprong van 2,04 m plaas hom onder die voorste jong hoogspringers in die land. Hierdie prestasie het ook vir hom ’n plek in die Suid-Afrikaanse Skolespan besorg. Equin sal die land by die CONSA-spele in Zimbabwe verteenwoordig, wat van 31 Augustus tot 3 September vanjaar plaasvind.

Met sy oë reeds op die toekoms gerig, droom Equin groot. Hy glo dat hy met harde werk, dissipline en volgehoue afrigting in 2027 die 2,15 m-kerf kan oorskry.

Vir Equin is die lug letterlik die limiet, en sy prestasies dui daarop dat daar nog baie hoogtes voorlê. Enige persoon wat ’n bydrae vir hierdie atleet wil maak kan in kontak kom met sy afrigter Marius de October by 071 836 1018. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Equin Josephs mik na nuwe hoogspringhoogtes"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*