Sonja Schultz onder SA se bestes

Sonja Shultz. Foto verskaf.

Oudtshoorn se Sonja Schultz is ’n finalis vir Sportadministrateur van die Jaar by die 19de Suid-Afrikaanse Sporttoekennings – nasionale erkenning, na jare se harde werk agter die skerms van Suid-Afrikaanse fietsry.

Die toekennings vind op Sondag, 23 Augustus, by die Sun City Superbowl in Noordwes plaas. Schultz is een van slegs drie finaliste wat oor alle sportsoorte heen vir dié gesogte toekenning benoem is. “Dit was baie onverwags! Om onder die topdrie in Suid-Afrika oor al die sportkodes heen te wees, is regtig ’n groot eer en voorreg,” het Schultz aan Die Hoorn gesê.

“Ek neem nog alles in, maar ek het baie hard gewerk en waardeer almal se ondersteuning om hierdie mylpaal in my lewe te bereik. Ek werk saam met ’n uitstekende span en leer steeds elke dag. Ek is regtig passievol oor die sport en sien altyd kans vir ’n uitdaging.”

Schultz se naam is reeds jare lank nou verweef met fietsry in Oudtshoorn, die Eden-streek en die Wes-Kaap.

Die Hoorn het in 2023 berig dat sy as Administrateur van die Jaar by die Eden Sporttoekennings aangewys is. Dieselfde jaar was sy as sekretaresse van Eden Fietsry nou betrokke by die aanbieding van die Suid-Afrikaanse Padfiets-, Tydtoets- en Kriteriumkampioenskap op Oudtshoorn.

Haar rol strek egter veel verder as plaaslike fietsry. Sy is ook ’n administrateur van Wes-Kaap Fietsry en is aan die begin van vanjaar as voorsitster van Cycling South Africa se Vrouekommissie aangestel.

In 2025 is sy deur SASCOC as bestuurder van Suid-Afrika se fietsryspan vir die African Youth Games in Luanda, Angola, aangewys. Die Suid-Afrikaanse meisiespan het tydens dié Spele brons in die spantydtoets verower.

Schultz is ook steeds sekretaresse van Eden Fietsry en speel ’n belangrike rol in die administrasie, organisering van byeenkomste, spanbestuur en ontwikkeling van fietsryers.

Haar plek onder die drie finaliste is die jongste mylpaal in ’n loopbaan waarin baie van haar werk agter die skerms gebeur.
Vir Oudtshoorn is dit ’n besondere prestasie dat een van die dorp se eie sportadministrateurs nou op die hoogste nasionale vlak erken word, en die Klein Karoo is beslis baie trots op haar.

Die wenner word Sondagaand tydens die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings aangekondig. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Sonja Schultz onder SA se bestes"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*