Eden Proewe byeenkoms lok meer as 250 inskrywings

Die Eden Proewebyeenkoms van 2026 het meer as 250 inskrywings van tweekampatlete uit verskeie provinsies gelok om mee te ding vir ’n plek in die Eden-spanne. Foto’s verskaf.

Die 2026-deel van die Eden Tweekampseisoen het op Dinsdag, 20 Januarie, amptelik afgeskop met ’n uiters suksesvolle Eden Proewe-byeenkoms wat op die De Jager Sportkompleks se atletiekbaan en in die NA Smit-swembad in Oudtshoorn aangebied is.

Die byeenkoms het groot belangstelling gelok, met meer as 250 atlete wat ingeskryf het om mee te ding vir ’n plek in die gesogte Eden-spanne.

In tipiese Oudtshoorn-“koel” somerweer het atlete van verskillende ouderdomsgroepe hul beste gelewer in die hoop om gekies te word vir die Eden Meriete-, B- en Ontwikkelingspanne.

Hierdie spanne sal op 7 Februarie in Oudtshoorn aan die DCAS/Groter Oudtshoorn/Highgate IP-byeenkoms deelneem.

Die Eden-spanne is reeds op Woensdag, 21 Januarie, aangekondig en sluit altesaam meer as 170 atlete uit die Eden-distrik in.

Die byeenkoms het ook ’n sterk interprovinsiale karakter gehad, met deelnemende provinsies wat Wes-Kaap, Boland, Oos-Provinsie, Vrystaat, Grens en Griekwaland-Wes insluit.

’n Hoogtepunt van die proewe was die verbetering van drie Eden-re-kords, wat die hoë standaard van prestasie tydens die byeenkoms bevestig het.
Die volgende nuwe Eden-rekords is opgestel:

  • Seuns o.8: Simeon Bezuidenhout – 2113,60
  • Seuns o.13: Judah Spies – 2117,39
  • Dames Junior: Cornel Kruger – 2027,97

Organiseerders het hul tevredenheid uitgespreek oor die uitstekende bywoning, gladde verloop van die dag en die gees van sportmanskap wat onder die atlete geheers het.

Die sukses van die Eden Proewe-byeenkoms dien as ’n belowende begin vir die 2026-tweekampseisoen en bevestig Oudtshoorn se status as ’n belangrike sentrum vir die sport in die streek. (GRANWILLE GOLIATH)