Drie oes ses medaljes in!

Oudtshoorn se skitterende meesters­atlete, Johann Coetzer, Toy Ungerer en Lampies Lamprecht, met hul medaljes om die nek.  Foto: Liesel le Roux

Oudtshoorn se skitterende meesters­atlete, Johann Coetzer, Toy Ungerer en Lampies Lamprecht, met hul medaljes om die nek. Foto: Liesel le Roux

Toy aangewys as SA Meesteratletiek se Sportvrou van 2017

Deur Liesel le Roux
HULLE noem haar die vrou met die goue voete – Toy Ungerer van Oudtshoorn wat die naweek deur SA Meestersatletiek as Suid-Afrika se Sportvrou van 2017 gekroon is.

Toy het die afgelope naweek weer twee goue medaljes losgehardloop by die Suid-Afrikaanse Meestersatletiekkam­pioen­skap en getoon sy is nog net so ’n ster op die atletiekbaan as verlede jaar toe sy ’n wêreldrekord en twee goue medaljes by die wêreldbyeenkoms in Perth gewen het.

Sy het tydens die SA Meestersatletiek in die Groenpunt Stadion in Kaapstad beide items waaraan sy deelgeneem het, die 100 m en 200 m vir vroue 70 plus, gewen.

Ongelukkig het ’n sterk wind wat tydens die kompetisie gewaai het, deelnemers in groot mate verhinder om vanjaar nasionale en provinsiale rekords te verbeter.

Toy is met die toekenning van SA Meestersatletiek se Sportvrou van 2017 by ’n funksie Saterdagaand vereer. Sy het ook die vierde keer SA kleure ontvang, asook sertifikate vir haar wêreldrekord in die 400 m by die wêreldbyeenkoms in Perth verlede jaar en twee goue medaljes in 100 m en 400 m in Perth.
Twee van Oudtshoorn se ander deelnemers aan die SA Meesterskampioenskap het ook uitgeblink en medaljes verower.

Die veelsydige Johann Coetzer spog na die byeenkoms met drie medaljes – twee silwer medaljes in die driesprong en in die verspring mans 55 plus, asook ’n brons medalje in die 200 m. Dit was die eerste keer dat hy aan die naellope deelgeneem het.

Met die verspring het Coetzer boonop die SWD-rekord vanaf 4,37 m tot 4,87 m verbeter. Hy het ook aan die hoogspring deelgeneem waarin hy vierde geplaas is.

Die veteraan Lampies Lamprecht het ook met ’n silwer medalje huis toe gekom vir sy vertoning in die 10 000 m mans 65 plus.