Respek en hoflikheid is ons reg

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Polisielede behandel dikwels perso-neel van Die Hoorn en ander koerante op tonele van motor- en ander ongelukke op openbare paaie nie met die nodige professionaliteit en hoflikheid nie.

Die Hoorn het begrip daarvoor dat padongelukke dikwels met skokkende omstandighede en trauma gepaard gaan en dat die Polisie op sulke tonele ’n groot verantwoordelikheid dra en nie altyd ’n maklike taak het nie.

Maar koerante het ook ’n rol om die lesers (die gemeenskap) in te lig oor wat in hul omgewing aangaan. Benewens dit is dit nodig dat motorryers en ander ­voertuigbestuurders gereeld bewus gemaak word wat die gevolge daarvan kan wees as hulle roekeloos, nalatig of selfs bloot nie versigtig genoeg bestuur nie.
Dit kan tot ongelukke lei met gepaardgaande sterftes en/of beserings en skade aan onder meer voertuie.
’n Polisieman het bv Dinsdagaand op ’n botsingstoneel aan Die Hoorn gesê ons mag sekere foto’s nie neem nie. Ons wil dié polisieman en ander wat ons al op ongelukstonele stief behandel het, die versekering gee ons hier by Die Hoorn is deeglik bewus van wat ons regte is en waarvan ons foto’s mag neem en waarvan nie.

Ons wil ook die versekering gee dat ons nie onsensitief is teenoor die slagoffers van botsings en ongelukke nie en met die plasing van ­foto­materiaal die nodige verantwoordelikheid aan die dag sal lê.
Neem ook kennis daarvan dat Art 16 van die Grondwet mediavryheid beskerm.
Die SAPD se staande bevel 156 lui:
• Alle polisielede “moet alle media-verteenwoordigers met hoflikheid, waardigheid en respek behandel, selfs onder provokasie;
• Polisielede mag mediafotograwe nie verhinder om foto’s of videos te neem nie, hetsy van mense, geboue of polisielede self;
• Polisielede mag nie beslag lê op toerusting of dit beskadig nie, en niemand dwing om foto’s uit te vee nie.”

Sjoe, maar dis duur!

So van die os op die jas: toe ek gister in ’n supermark vier Gillette Fusion Pro Glide-vyflemlemmetjies wou koop, sien ek dit kos digby R345.

Toe koop ek maar vir ’n Bic Hybrid 4 Flex-skeermes wat vier vierlemmetjies insluit wat digby R90 kos.
– Schalk le Roux