Dave van der Walt met sy lewenslange toekenning wat hy Saterdagaand in Kaapstad ontvang het. Van der Walt het na 44 jaar diens aan sport die tuig neergelê. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
Dave van der Walt is Saterdagaand in Century City, Kaapstad, vereer vir sy jarelange diens en toewyding aan sport in die Wes-Kaap in die algemeen, maar in Eden in die besonder.
Dit span die kroon op sy 44 jaar van diens aan sport op verskillende vlakke.
Dié glansgeleentheid wat deur 240 gaste bygewoon is, was verteenwoordigend van ses distriksportrade en 30 sportfederasies van die Wes-Kaap.
Anroux Marais, Minister van Kultuursake en Sport was onder die uitgelese gaste.
As baanbreker was Van der Walt betrokke by die stigting van menige sportliggame wat insluit die Wes-Kaapse Provinsiale Sportkonfederasie in 2009. Dit is sy uitgebreide kennis van sport, en veral grondwette van sportliggame, wat ’n waardevolle bydrae tot sport in die Wes-Kaap gelewer het.
As atletiekafrigter het hy ook naam gemaak en verskeie topatlete afgerig, waarvan Isabel le Roux, die Olimpiese 200 m-atleet van Oudtshoorn, seker die bekendste is.
Van der Walt het die eerste Lifetime Achievement Award van die Wes-Kaap Provinsiale Sportraad ontvang. Dit is aan hom toegeken uit erkenning “vir ’n leeftyd se uitstaande bydrae, opoffering en verbondenheid aan sport in die Wes-Kaap.”
• Waarderingsertifikate is ook toegeken aan Desmond Speelman, voorsitter van die Edensportraad en Corné Bence, voorsitter: Wes-Kaap Fietsry.