Damestuisdag by Oudtshoorn Gholfklub

Bo: Een van die vierbal-damesspanne wat deelgeneem het is van links: Magda Rossouw, Leonie van Greunen, Celeste Barnard en Annalie van der Walt. Onder: Die ongelooflike pryse wat deur Buffelsdrift Game Lodge geborg is. Foto’s: Lindi Brill

Die dameslede van die Oudtshoorn Gholfklub het hul jaarlikse Tuisdag-toernooi op Donderdag, 5 September aangebied. Dié dag vind reeds vir tien jaar plaas en tot dusver was Buffelsdrift Game Lodge elke jaar die borg.

Daar was ’n indrukwekkende getal dames wat ingeskryf het (76) van regoor die Suid-Kaap wat aan die dag deelgeneem het. Volgens Stef Nel van die Oudtshoorn Gholfklub is hulle opgewonde dat dié toernooi baie gewild is en jaarliks groei.

Die dag is gewen deur T. Mills en V. Cloete met 44 punte. C. Grard en S. Craig het in die tweede plek geval met 43 punte. Oudtshoorn se dames, Anneline Badenhorst en Ronel Huysamen het die derde plek ingeneem met 41 punte.

Die dames is ook bederf met groot pryse wat deur Buffelsdrift geborg is. (Deur Lindi Brill)