Aangesien dit van 16 tot 20 September 2024 Nasionale Testamenteweek is, het Die Hoorn vir Lézelma Pretorius, prokureur van Duvenage Keyser & Jonck, met meer as 25 jaar ervaring in die opstel van testamente en bereddering van boedels, versoek om die belangrikheid van testamente te bespreek:
‘n Testament is een van die belangrikste dokumente wat ’n mens in jou leeftyd kan opstel en moet gereeld hersien word. Dit verseker dat jou wense ten opsigte van jou bates, afhanklikes en laaste reëlings uitgevoer word wanneer jy nie meer daar is nie. Sonder ’n testament vind die verdeling van jou boedel ingevolge die Wet op Intestate Erf-opvolging plaas, wat tot konflik en vertraging kan lei, omdat dit nie noodwendig prakties of uitvoerbaar is nie en waarskynlik nie ooreenstem met jou persoonlike wense nie.
In die eerste plek maak ’n testament dit moontlik om duidelik te bepaal wie jou bates erf. Dit voorkom onnodige rusies tussen familielede en verseker dat die mense of organisasies wat jy liefhet en wil ondersteun, bevoordeel word soos jy dit bedoel het. Jy kan ook in jou testament ’n eksekuteur van jou keuse aanstel, sodat jy seker is die persoon wat jou boedel administreer, is iemand wat oor die nodige kundigheid en ervaring beskik en wat jy vertrou om seker te maak jou erfgename kry hul erfenis. Baie boedels se afhandeling word vertraag, omdat mense familielede of ander vertrouelinge as eksekuteurs aanstel, wat geen kennis van boedel-administrasie het nie.
Die wanorde wat tans by die Meesterskantore heers en waaroor gereeld in die pers berig word, maak dit eintlik onmoontlik vir enige persoon wat nie oor die nodige kundigheid en ervaring beskik nie, om ’n boedel af te handel. Dit word ook aanbeveel dat jy iemand kies wat plaaslik en toeganklik is en ’n persoonlike verhouding met jou erfgename kan opbou, aangesien die afhandeling van ’n boedel 6-12 maande, soms selfs langer, kan neem.
Vir ouers of persone met afhanklikes is ’n testament onontbeerlik, aangesien dit gebruik kan word om ’n voog vir jou kinders aan te wys. Sonder hierdie bepaling kan ’n hof besluit wie jou kinders moet grootmaak, wat dalk nie in ooreenstemming met jou wense is nie.
In jou testament kan jy ook ’n trust skep om seker te maak dat jou minderjarige kinders behoorlik versorg word. Sonder so ’n trust word enige minderjarige erfgenaam se erfenis by die Meester se Voogdyfonds inbetaal totdat daardie erfgenaam 18 jaar oud word. Om onderhoud van die Voogdyfonds te eis, is ’n moeisame en tydrowende proses, wat tot frustrasie en nadeel van jou kinders kan strek.
’n Testament help ook om die regsproses rondom die afhandeling van jou boedel te vereenvoudig. Dit maak die proses vinniger en skep sekerheid, aangesien ‘n goed opgestelde testament die risiko van langdurige hofsake verminder. Verder kan behoorlike boedelbeplanning en ’n goed opgestelde testament jou help om boedelbelasting te verminder sodat meer van jou bates by jou erfgename uitkom.
Meeste mense dink dat die opstel van ’n testament ’n eenvoudige proses is, omdat die geldig-heidsvereistes ingevolge die Wet op Testamente relatief min is, maar in die praktyk ervaar ons gereeld dat testamente wat nie deur regskundiges opgestel is nie, ongeldig is omdat dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie of dat dit prakties onuitvoerbaar is.
Dit lei dikwels tot hofsake wat groot koste vir die boedel meebring en die afhandeling met jare kan vertraag. Uiteindelik verseker ’n testament dat jou stem gehoor word, selfs nadat jy oorlede is, en bied dit duidelikheid en beskerming vir jou geliefdes. Dit is jou verantwoordelikheid om jou nalatenskap aan jou geliefdes te verseker.
DUVENAGE KEYSER & JONCK bedien die gemeenskap van Oudtshoorn al vir 55 jaar met kundigheid en ervaring. Ons help u graag met u boedelbeplanning en opstel van ’n testament. Nasionale Testamenteweek strek van 16 – 20 September 2024 en kan u gerus ’n afspraak by een van ons ervare prokureurs maak vir die opstel van ’n gratis basiese testament.
Let daarop dat hierdie artikel nie as regsadvies beskou moet word nie, maar bloot ten doel het om as algemene inligting te dien. Kontak u prokureur of ander kundige vir persoonlike advies.
