Covid kelder Eden-straatmylreeks

Vanjaar se Desember-vakansie gaan ietwat gedemp wees vir atlete regoor Suid-Afrika na dit vandeesweek bekend geword het dat die Eden-straatmylreeks weens die Covid-pandemie ontspoor het.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) wat dié straat- en baanmylreeks organiseer, het die reëlingskomitee na vele pogings om die reeks vanjaar te red, besluit om eerder die reeks te kanselleer en ‘n groter reeks vir 2021 te organiseer.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Atletiek SWD (ASWD) het nie die straatmyle wat op Oudtshoorn en Hartenbos sou plaasvind, goedgekeur nie, maar slegs die aanbied van ‘n baanmyl op Oudtshoorn.

Die KKAF het hulle innige simpatie uitgespreek teenoor die atlete vir die ongerief, maar volgens Van der Walt was daar ongelukkig geen alternatiewe nie.

“Alle moontlike opsies is oorweeg. Daar is ook met die primêre borge gekonfereer en hulle was dit eens dat die organiseerders aan die einde van die dag die beste besluit geneem het,” sê Van der Walt.

  • Lees meer hieroor in vandeesweek se uitgawe van Die Hoorn.