Collegians se A-span is terug op die wenpad deurdat hulle Saterdag die Oudtshoorn Rugbyklub se A-span in ’n SWD Presidentsligawedstryd met 25-19 geklop het nadat hulle rustyd met 10-12 agter was.
Collegians het hul vorige twee wedstryde verloor.
Saterdag se wedstryd op die Rec (Oudtshoorn Sportgronde) was hard, maar skoon en het in ’n goeie gees plaasgevind.
Collegians het met baie jong spe-lers op die veld gedraf aangesien baie van sy senior spelers met beserings sukkel. Die jong klomp was egter vasbeslote om verlore aansien te herwin en het met oorgawe gespeel.
Collegians se voor- en agterspelers het goed saam gespeel en mekaar ondersteun. Voorlangs het Malvern van Staden,
Angelihano Goliat en Marvin Prinsloo goed met die bal gedryf en was hul verdediging puik.
Die agterlyn het ook goed verdedig en op die aanval Oudtshoorn op die agtervoet gedwing. Veral die skakelpaar, Leagan Britz (9) en Shedwick Sauls (10), het uitgeblink en die wedstryd dikteer. Britz is aangewys as Speler van die Wedstryd.
Vir Collegians het Arlynn Sylves-ter, heelagter, Jason Plaatjies, regtervleuel, Willem Goliath, binnesenter, en Britz elkeen ’n drie gedruk.
Plaatjies het een drie verdoel en ’n strafdoel behaal.
Seppie Ekstraal, Collegians se af-rigter, het gesê hy is tevrede met die span se vertoning. “Hulle het gedoen wat ek hulle gevra het en hulle het nooit gaan lê.” Ekstraal het die hoop uitgespreek dat sy span sal voortbou op Saterdag se vertoning vir die wedstryde wat voorlê.
• Collegians B het Oudtshoorn B met 31-12 geklop.
Collegians speel Saterdag op die Bridgton Sportgronde teen Willowmore United.