Carina Viljoen en Keanu Domingo in Eden Straatmylreeks 2025

Foto's verskaf Onder: Carina Viljoen

Die gewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word soos voorheen aangebied deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF). Hierdie jaar word die reeks uitgebrei met die toevoeging van die George Straatmyl, wat deel is van die George Sport & Kultuurfees.

Die reeks begin op 14 Desember met die George Straatmyl in Yorkstraat, George, gevolg deur die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn plaasvind. Die reeks word op 18 Desember afgesluit met die ATKV Straatmyl in Paardekraalweg, Hartenbos. Tot dusver het baie van Suid-Afrika se topatlete bevestig dat hulle aan die reeks gaan deelneem.

Die manswedlope beloof opwindende kompetisie, met die belowende junior atleet Werner Gouws oor 800 m wat sal meeding teen gevestigde sterre. Hy sal die stryd aan sê teen Thinus Erasmus, wat in 2024 indruk gemaak het deur ’n tyd van 3:57,7 te hardloop en die jongste atleet geword het om ’n “droommyl” in die Eden Straatmylreeks te voltooi.

Nog ’n sterk mededinger is Beyon Prince, ’n voormalige jeugwenner en uitblinker van Basil Abelse se Riversdal Super Kids-program.

Die verdedigende kampioen Keanu Domingo (beste 1 500 m tyd van 3:36) en vorige jeugwenner Corné de Fouw keer ook terug, wat ’n fel en spannende mans-kompetisie voorspel met ’n mooi mengsel van ervare kampioene en nuwe sterre.

Die dameswedlope beloof net soveel opwinding. Meervoudige voormalige wenner Simonay Weitsz sal sterk mededinging ondervind van die 18-jarige Andrea Steynberg (PTC), die sensasie van verlede jaar se reeks wat as een van die blinkste jong ta-lente in Suid-Afrikaanse middelafstandatletiek beskou word.

Hulle word vergesel deur Alri Verster, dogter van Springbok Jean en Alta Verster, wat reeds in die junior afdeling uitblink, sowel as plaaslike gunsteling Jandri Snyders van Hartenbos, wat ’n sterk tuisdorp-element bring.

Met Andrea Steynberg wat haar titel verdedig en Simonay Weitsz wat weer sal jaag vir die kroon, beloof die dames se ope afdeling ’n spanningsvolle stryd tussen ervaring en jong talent. Carina Viljoen, ’n vorige wenner en Olim-piese atleet, het ook haar deelname bevestig.

Daar is meer as R60 000 se prysgeld te wen. Die hoofborge van die reeks is die Noordwes-Universiteit (NWU), ATKV Oorde Hartenbos, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, George Munisipaliteit, Mosselbaai Burgemeesterskantoor en MSEC.

Addisionele borgskappe en ondersteuning kom van Suzuki Oudtshoorn, Surval, Kleinplaas, Sante Fe Spur, ASWD, ASICS, TOP GEAR, EdenFM, Oasis Water en Jakhals Events Management.

Die Klein Karoo Atletiekfonds speel ’n groot rol in atleetontwikkeling en moedig beginners ook aan om deel te neem.

Atlete kan meeding in vyf ouderdomskategorieë: Jong Talent (2011-2016), Jeug (2008-2010), Junior (2006-2007), Ope en 40+. Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet.