Cape Pioneer Trek begin

Nico Bell en Gawie Combrink, wat verlede jaar die CPT gewen het, neem weer vanjaar deel. Foto: Zoon Cronje

Nico Bell en Gawie Combrink, wat verlede jaar die CPT gewen het, neem weer vanjaar deel. Foto: Zoon Cronje

VAN die wêreld se voorste bergfietsryers tree weer van Sondag aan vir die Cape Pioneer Trek, een van die wêreld se taaiste multiskof-bergfietsrenne wat sy ontstaan hier op Oudtshoorn het.

Die eerste skof van die sewedaelange bergfietsren oor altesame 1553 km begin Sondag by die Milkwood Primêre Skool op Mosselbaai en die sewende en laaste skof eindig op Saterdag, 21 Oktober, voor die Queen’s Hotel in Baron van Reedestraat, ­Oudtshoorn.

As al die opdraendes van die ren bymekaar getel word, klim die deelnemers oor die sewe dae altesame 11370 meter.

Sondag se eerste skof, GodwanaGlory, is 96 km lank met 1650 m se klimwerk.

Die skof se roete volg die kuslyn wes van Mosselbaai totdat dit wegdraai na die Gondwana Na­tuurreservaat van 11000 ha. Afrika se Groot Vyf-wildsoorte kom in die reservaat voor. Daarna ry hulle met onder meer plaaspaaie terug na die dag se beginpunt.

Maandag se tweede skof, genaamd DiazDelight, begin en eindig weer by Milkwood en is 71km lank met 550 klimwerk.

Die dag se roete begin met ’n taai klim in Pinnacle Point se rigting. By Danabaai draai die roete regs na die binneland en lei dit deur Bergsig Wildplaas met ’n verskeidenheid wild wat buffels en kameelperde insluit. Daarna is dit weer terug Milkwood toe.

Skof drie, OuteniquaOdessey, begin Dinsdag, by Milkwood en eindig 99 km later by die Van Kerkvel op George. Met 2000 m se klim­werk bied dié skof beslis ’n groot uitdaging aan die deelnemers.

Die roete lei aanvanklik kuslangs by Dias en Hartenbos voordat dit rigting kry na die voet-heuwels van die Outeniquaberge en ooswaarts lei na George waar dit by die Van Kervelskool eindig. Die dag se roete sluit plaas- en voetpaadjies in.

Woensdag se skof vier, SaasveldSingletrack, wat by Van Kervel begin en eindig, is die kortste skof van vanjaar se Cape Pioneer Trek. Dit is slegs 31 km lank en sluit 720m se klimwerk in. 90% van die roete is enkelspoorpaadjies wat deur lo­werryke woude langs George lei. Die pragtige paadjies is met groot sorg deur fietsryers van die omgewing gebou en word deur hulle in stand gehou.

Skof vyf, MontaguMettle, begin volgende Donderdag by Van Kervel en eindig by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Dié taai skof is 97km lank en klim 1650 m.

Die roete sluit die geskiedkundige Montagupas in en lei daarna met enkelspoorpaadjies deur die Herold-omgewing totdat dit vanjaar die eerste keer met die Klein Karoo kennis maak. Die roete lei onder meer deur Chandelier Wildplaas voordat hulle op Oudtshoorn aankom.

Die voorlaaste skof, die SwartbergShowdown, op Vrydag, 19 Oktober, is die taaiste skof van vanjaar se Cape Pioneer Trek, veral as in ag geneem word dat die ryers al vyf dae se trap agter die rug het. Die dag se roete begin by Langehoven Gimnasium en eindig 95 km later aan bopunt van Swartbergpas wat 2000 bokant seevlak is. Die ryers klim egter altesame 2700 m klim.

Van Oudtshoorn lei die dag se roete eers wes-waarts in die bekende Red Stone Hills se rigting. Die roete lei deur die plaas Buffelskloof en Wildehondekloof aan die voetheuwels van die Swartberge. Vandaar kry die deelnemers rigting na die Swartbergpas, ’n Wêrelderfenis met skilderagtige uitsigte.

Skof sewe, ChandelierChampagne, op Saterdag begin weer by die Gimmies. Die 64 km-lange roete lei deur Chandelier en omgewing voordat voor die Queen’s Hotel in die middel van Oudtshoorn eindig. Van die wildsoorte waarvoor die ryers op Chandelier kan uitkyk, is kameelperde en elande.

Vir meer inligting oor die Cape Pioneer, soos waar die talle uitkykpunte is, besoek gerus die webblad capepioneer.co.za.

Onder die gunstelinge wat aan vanjaar se CPT deelneem, is Nico Bell en Gawie Combrink (NAD Pro MTB) van Suid-Afrika wat die ren verlede jaar gewen het. Bell is ook die heersende SA marathonkampioen in bergfietsry.

Hulle kan kwaai teenstand verwag van:

• Alan Hatherly en Matt Beers (Team Spur/ Red-E), ook van Suid-Afrika. Hatherly, wat die CPT die eerste keer ry, het vanjaar uitstekend presteer in die UCI XCO Wêreldbekerreeks. Hy was in die o.23-afdeling tweede in die UCI Bergfietswêreldkampioenskap. Beers, wat tans goed op dreef is, en sy spanmaat van verlede jaar was toe derde in die 2016 CPT.

Waylon Woolcock (BCX), wat in 2013 die CPT saam met Erik Kleinhans gewen het, ry vanjaar saam met HB Kruger, ’n ryer wat baie belofte toon.

Onder die top buitelanders wat deelneem, is Bram Rood en Gerben Mos (KMC Fruit to Go) van Nederland, Manuel Pliem en Moritz Bscherer (KTM Pro Team) van Oostenryk, Lukas Islitzer en Sascha Weber (Craft Rocky Mountain), ook van Oostenryk, en Jiri Krivanek en Marek Rauchfuss (Kellys Bikeranch) van die Tsjeggiese Republiek. Krivanek was verlede jaar die CPT se solo-manswenner.

Onder die topvroue wat gaan deelneem, is Robyn de Groot en Sabine Spitz (Ascendis Health) van onderskeidelik Suid-Afrika en Duitsland, en Ariane Lüthi en Amy-Beth McDougall (Spur/Valencia) van Switserland en Suid-Afrika.

Lüthi het al twee keer op die CPT-wenners-podium gestaan. Sy het in 2010 saam met Pädi Griessen die gemengde titel gewen, en in 2013 die vrouetitel saam met Annika Langvad.

Twee jong ryers wat tegnies baie vaardig is en van wie skofoorwinnings verwag kan word, is Nicky Giliomee en Frankie du Toit (Junto Ladies) van Suid-Afrika. Giliomee was verlede jaar die solo-vrouewenner van die CPT. Du Toit is die SA o.23 XCO-kampioen.

• Onder die ander Oudtshoorryers wat van- jaar gaan deelneem, is Anru de Wet en Kobus en Fienie Barnard.

Yolande de Villiers (44) van Oudtshoorn wat vanjaar as solo-ryer in die vroue-afdeling van die Cape Pioneer Trek gaan deelneem. De Villiers is die laaste tyd kookwater deurdat sy Saterdag, 30 September, die 7Weekspoort Berg- fietsren (85 km) gewen het. Sy was die dag daarna tweede in die Timbercity Padfietstoer (104km). Sy het ook die gemengde afdeling van die Cape Duo Uitdaagren van 5 tot 8 Oktober gewen.

Yolande de Villiers (44) van Oudtshoorn wat vanjaar as solo-ryer in die vroue-afdeling van die Cape Pioneer Trek gaan deelneem. De Villiers is die laaste tyd kookwater deurdat sy Saterdag, 30 September, die 7Weekspoort Berg- fietsren (85 km) gewen het. Sy was die dag daarna tweede in die Timbercity Padfietstoer (104km). Sy het ook die gemengde afdeling van die Cape Duo Uitdaagren van 5 tot 8 Oktober gewen.