Erich Juries (links) en Laurens Boer (regs) met die pakke vleis wat hulle in BSS se geborgde gholfdag gewen het. In die middel staan die skoolhoof, Calvin Ellis. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE Bridgton Senior Sekondêre Skool se gholfdag Saterdag op die Oudtshoorn Gholfbaan het meer as 100 spelers gelok.
Die skoolhoof, Calvin Ellis, het tydens die prysuitdeling almal bedank wat gehelp het om van die dag ’n groot sukses te maak.
“Dit is die eerste gholfdag wat ons skool aanbied. Vanweë die sukses van die dag sal ons dit graag weer in die toekoms aanbied,” het Ellis gesê.
Die wenners van die dag was Erich Juries en Laurens Boer van Goose Valley wat met 53 punte die wenners van die dag was.
Volgens Juries was dit die eerste keer wat hulle op die “interessante’ baan speel.
M Harold en J Bruiners (48) was tweede, gevolg deur G Windvogel en M May (47), AO Theunissen en Winston Coerecius (46), en Johan Corne-lissen en sy seun Heinrich, ook met 46, op ’n uittel vyfde.
Coerecius het op die derde putjie die naaste aan die pen geslaan en Ian Laubscher op die twaalfde.
Jurgens Burger jr het op die 18de die langste dryf geslaan.
Cornelissen, klubkaptein, het vir Jaco Mortlock gegroet wat ná 22 jaar by die klub na Bloemfontein verhuis.