Bridgton Sportgronde vol adrenalien met opwindende, naelbyt rugbyaksie

Foto's: Granwille Goliath

As jy nie Saterdag by die Bridgton Sportgronde, beter bekend as “Die Plate”, was nie, het jy beslis een van die hoogtepunte van die plaaslike sportkalender misgeloop.

Die Western Hope Krieketklub het ’n suksesvolle rugbytoernooi aangebied waaraan ses klubs deelgeneem het.

Die eerste wedstryd van die dag het Spring Roses teen Kavaliers te staan gekom. Spring Roses het vroeg hul bedoelings duidelik gemaak en met energieke spel en goeie samewerking die oorhand gekry.
Hul druk het vrugte afgewerp en hulle het uiteindelik Kavaliers geklop met ’n eindtelling van 32–14, wat die toernooi op ’n hoë noot laat begin het.

Die tweede wedstryd het die aandag van baie ondersteuners getrek toe Oudtshoorn RFC teen Collegians RFC kragte gemeet het. Van die afskop af het dit duidelik gelyk dat Oudtshoorn goed voorbereid en gefokus was.

Hulle het die wedstryd van die begin af beheer, met sterk verdediging en aanvalle wat Collegians onder druk geplaas het. Oudtshoorn se dissipline en taktiese spel is beloon toe hulle die wedstryd met 20–8 gewen het, tot groot vreugde van hul ondersteuners.

Die hoofwedstryd van die dag het ware vuur-werke opgelewer toe Harlequins RFC teen die Multisure All Blacks te staan gekom het. Die All Blacks het die wedstryd sterk begin en in die eerste helfte die oorhand gehad. Met kragtige spel en goeie benutting van kanse het hulle ’n 15–0 voorsprong opgebou en dit het gelyk asof hulle die wedstryd sou oorheers.

Harlequins RFC het egter ná rustyd ’n heel ander span op die veld gestuur. Met merkwaardige veggees, vasberadenheid en spanwerk het hulle stadig maar seker teruggeveg.

Die momentum het begin draai en die spanning onder toeskouers was tasbaar. In ’n dramatiese slot het Harlequins daarin geslaag om die wedstryd 31–29 te wen, wat vir een van die mees opwindende oomblikke van die toernooi gesorg het.

Die toernooi het duidelik gewys dat plaaslike rugby hierdie seisoen baie het om te bied. Die intensiteit, vaardigheidsvlakke en geesdrif wat Saterdag gesien is, beloof ’n jaar van vermaaklike en kompeterende wedstryde.

Ondersteuners word aangemoedig om die spanne hierdie seisoen te bly ondersteun en hul plaaslike klubs by te staan.

As Saterdag se aksie enige aanduiding is, wag daar nog baie opwindende rugby by die Bridgton Sportsgronde en elders. (GRANWILLE GOLIATH)