Brigton RFC het die afgelope Saterdag weer eens bewys waarom hulle as een van die top rugbyklubs in die streek beskou word, toe al drie hul spanne indrukwekkende oorwinnings behaal het om deur te dring na die finale.
Wat hierdie prestasie nóg meer merkwaardig maak, is dat al drie spanne die seisoen bo-aan die punteleer afgesluit het – ’n historiese eerste vir die klub.
Die dag se aksie het begin met die C-span wat in ’n taai en spanningsvolle wedstryd teen Evergreens te staan gekom het. Dit was ’n naelbytstryd van begin tot einde, maar Bridgton het hul kalmte behou en uiteindelik ’n 14-8 oorwinning behaal om hul plek in die eindstryd te verseker.
Die B-span het daarna die veld betree vir hul halfeindstryd teen Heidelberg. Met goeie strukture en sterk verdediging het Bridgton die oorhand gekry en die wedstryd met 22-14 gewen. Die span het deurgaans beheer geneem en hul kanse goed benut om die uitslag in hul guns te beklink.
Die hoogtepunt van die dag was egter die kragmeting tussen die A-spanne van Bridgton en Evergreens. Dit was ’n hoë-tempo en fisieke wedstryd waarin albei spanne hul beste gegee het. Evergreens het rustyd met ’n skrale 26-25 voorsprong ingegaan, maar Bridgton het in die tweede helfte teruggeveg met vasberadenheid en uitstekende spel.
Albei spanne het hul geleenthede ten volle benut en die telbord aan die rol gehou, maar dit was Bridgton wat uiteindelik die oorhand gekry het met ’n opwindende 42-38 oorwinning.
Met hierdie uitslae is alle oë nou gerig op die komende Saterdag wanneer Bridgton teen Barba-rians te staan kom op Outeniqua Park in George. Die twee spanne het onderskeidelik eerste en tweede op die punteleer geëindig, wat die eindstryd nog meer betekenisvol maak.
Onder ondersteuners en spelers is die groot vraag nou: Kan Bridgton drie bekers huis toe bring?
As hul huidige vorm en spanwerk enige aanduiding is, staan hierdie klub beslis ’n goeie kans om geskiedenis te maak. Die gemeenskap hou asem op vir wat beloof om Saterdag, 12 September, ’n onvergeetlike finaal te wees. (GRANWILLE GOLIATH)
Bridgton RFC skitter: Drie spanne deur na finale uit eerste posisie
Foto: Granwille Golaith
Be the first to comment on "Bridgton RFC skitter: Drie spanne deur na finale uit eerste posisie"