Bridgton RFC het hul goeie spel voortgesit deur Saterdag hul tweede oorwinning na mekaar te behaal toe hulle Progress RFC oortuigend met 33–14 op hul tuisveld geklop het.
Die span van Bridgton het van die begin af die pas aangegee en met gestruktureerde spel en sterk verdediging hul teenstanders onder druk gehou.
Met dié oorwinning bevestig Bridgton hul status as een van Oudtshoorn se gunstelingrugbyspanne. Hul vermoë om kanse te benut en konsekwent punte aan te teken, het reeds vroeg in die seisoen die aandag van ondersteuners getrek. Die span se gebalanseerde spel tussen voor- en agterspelers was duidelik sigbaar en het ’n groot rol in hul sukses gespeel.
In ’n ander opwindende kragmeting het Harlequins RFC naelskraap met 39–47 teen Evergreens RFC verloor. Dit was ’n wedstryd vol aksie waar albei spanne aanvallende rugby gespeel het.
Harlequins het dapper teruggeveg, maar Evergreens het in die laaste minute die deurslaggewende punte aangeteken om die oorwinning te beklink. Multisure All Blacks RFC het ook ’n moeilike dag beleef toe hulle met 17–38 teen Barbarians vasgeval het. Barbarians het van vroeg af beheer oorgeneem en hul voorsprong deurentyd uitgebou, terwyl All Blacks gesukkel het om momentum te behou.
Die eerste paar wedstryde van die seisoen het reeds gewys dat ondersteuners kan uitsien na ’n strawwe en opwindende kompetisie. Spanne lewer kompeterende vertonings en geen wedstryd kan as ’n uitgemaakte saak beskou word nie.
Met Bridgton wat tans momentum bou en ander spanne wat honger is vir oorwinnings, beloof die res van die seisoen om vol verrassings en hoë gehalte rugby te wees. Ondersteuners in Oudtshoorn kan beslis uitsien na nog baie naelbyt-aksie in die weke wat voorlê.
Na 12 jaar hierdie komende Saterdag vind een van die dorp se grootste derbies plaas waar Bridgton RFC teen Multisure All Black RFC te staan kom in die plate (Jaffies Park).
Die is ’n wedstryd wat die ondersteuners nie moet misloop nie. Wie gaan wegstap as die oorwinnaars? (GRANWILLE GOLIATH)
Bridgton maak dit twee uit twee in opwindende rugbyaksie
Foto verskaf